Grey hoop om ook die spook van ’96 te verjaag
Die rugbyspan van Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria sal uitsien na sy FNB Classic Clash om 14:00 teen Grey-kollege vandag in Bloemfontein.
Grey het Saterdag met sy nederlaag van 19-21 teen die Hoër Jongenskool Paarl die eerste keer sedert 2006 twee keer op ’n streep sy rieme styfgeloop.
Maklik gaan dit egter nie vir die span van die Jakarandastad wees nie.
Affies het wel met sy laaste besoek aan die Rosestad in 2013 met 37-31 die land se voorste rugbyfabriek sy eerste tuisnederlaag sedert 2006 toegedien, maar Grey is sedert 1966 nog net een keer (in 1996) drie keer op ’n streep geklop.
Destyds in 1996 het die span van Bloemfontein hom op ’n streep teen Monument (13-8), Boishaai (16-9) en Selborne College (15-14) vasgeloop.
Selfs in Grey se swakste jaar op die rugbyveld sedert 1966, in 1994, het die span nie drie keer op ’n streep slae gekry nie.
Die eerste span het daardie jaar agt keer op sy baadjie gekry.
Geen ander skool in Suid-Afrika kan met só ’n rekord op die rugbyveld soos dié van Grey spog nie.
Sedert 1966 het dié skool se trots al 20 keer sy seisoen onoorwonne afgesluit.
Die beseringspook wat vanjaar by Grey die ronde doen, het gewis ’n invloed op die span se vertonings.
Dié skool se eerste span is egter steeds ’n meer as gedugte eenheid. Dié spook maak dat die slot Jurie Burger (elmboog), vleuel Dawid Snyman (skouer) en flank Johan Dippenaar (enkel) wat teen Boishaai begin het, nie teen Affies in aksie sal wees nie.
Boonop sal die senter, PR Serfontein (knie), indien nodig slegs van die plaasvervangersbank speelkans kry.
Twintig spelers uit Grey se vergrote oefengroep was al vanjaar weens beserings nie verkiesbaar nie.
Die tuisspan se kaptein en agtsteman, Werner Roberts, en die haastige heelagter Dian Gouws en vleuel Marnus Boshoff, sal sleutelrolle vir die span vertolk.
Affies se losskakel, Eddie Fouché, en agtsteman, Eduan Lubbe, kan vir Grey probleme besorg.
- Athletics Rankings 2026 | Girls u19 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Girls u17 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Boys u17 - 2026-02-05




