Grey het te veel skietgoed vir Tralies in tweede helfte
Grey-kollege het die tweede helfte van sy kragmeting teen Hoërskool Sentraal tot ‘n hoër rat oorgeskakel waarby die Bloktruie nie kon kers vashou nie.
Grey het die wedstryd op Sentraal se veld met 51-0 gewen. Die kragmeting is met nog ongeveer 19 minute se spel oor gestaak. Grey het met die omdraaislag ‘n voorsprong van 18-0 geniet.
Grey se blondekop-vleuel, Johan van der Walt, was waarskynlik sy span se beste speler op die dag. Hy en die heelagter, Jandré de Beer, en die ander vleuel Marnus Boshoff het saam met die stewige senter, Francois Aggenbach, oor te veel skietgoed vir Tralies beskik.
Die losskakel, Edward Janse van Vuuren, verdien ook ‘n klop op die skouer vir sy vertoning. Vir die verloorspan het die senter Denzill Fiff en die slot Roan van der Westhuizen moedig probeer wal gooi.
Diamantveld het op sy tuisveld in Kimberley daarin geslaag om vir Hoërskool Upington met 22-15 tot oorgawe ted wing. Vir Diamonds was sy Cravenweek-losskakel, Gerco Nortjé, soos gewoontlik ‘n sleutelspeler.
Uppies se SA Skole-speler, Cobus Wiese, en flank Dian Dry was voorlangs ysters. Agterlangs het die senter Gert Ruping goeie spel gelewer.
Landboudal van Jacobsdal het vir De Aar met 41-14 die loef afgesteek.
Louis Botha het Grey se naasbestes met 39-29 in ‘n aanskoulike wedstryd verslaan. Albei spanne was nie bang om die bal hope lug te gee nie.
Die wenspan se vleuel, Tyrell Heyns en senter Luciano Jones het albei dubbelle driedruk-plesier ervaar. Louis Botha het teen die omdraaislag ‘n skrale voorsprong van 20-17 geniet. Vir die wenspan het sy skrumskakel, Qhama Masiza, en slot Kian Skippers puik spel gelewer.
Jim Fouché was met 32-17 oor Fichardtpark baas. Die wenspan se senter, Kosie Brand, het twee keer Fichies se doellyn oorgesteek.
In die Vrystaatse B1-liga het Sand du Plessis vir Tsosletso met 54-0 afgeransel. Die span het ook vroeër teen Sehunelo met 33-17 vasgeval. Sannies sukkel egter ook met ‘n beseringspook.
Brandfort het geen genade vir Hoërskool Bloemfontein betoon nie en 60-15 as oorwinnaars van die veld gestap. St. Andrew het teen Clifton met 32-20 vasgeval.
Puntemakers:
Grey-kollege 51 (18) – Drieë: Stef Brits, Jandré de Beer, Francois Aggenbach, Edward Janse van Vuuren, Marnus Boshoff, Dian Shoonees, Johan van der Walt. Doelskoppe: De Beer (5). Strafdoele: De Beer (2). Sentraal 0.
Louis Botha 39 (20) – Drieë: Luciano Jones (2), Tyrell Heyns (2), Siya Luwaca. Doelskoppe: Jeandré Christian (4). Strafdoele: Christian (2). Cherries 29 (17).
Jim Fouché 32 – Drieë: Kosie Brand (2), Myles Woolley, Jarrod van Wyk, Tiaan Schutte. Doelskoppe: Schutte (2). Strafdoel: Schutte. Fichardtpark 17 – Drieë: Ashwill Botha, Hugo Maartens, Etienne Broodryk. Doelskop: Pieter Snyman.
Diamantveld 22 – Drieë: De-an Ackerman, Nico Roets, Gerco Nortjé. Doelskoppe: Nortjé (2). Strafdoel: Nortjé. Hoërskool Upington 15 – Drieë: Cobus Wiese, Dian dry. Doelskop: Johan Bekker. Strafdoel: Benna Nieuwoudt.




