Grey dalk nou in Shimla-liga
DIE moontlikheid bestaan dat Grey-kollege volgende seisoen die eerste keer sedert 2000 aan die sentrale streek se streekkompetisie kan deelneem.
Die span van die Rosestad was nooit in die destydse Administrateurs- en latere Vrystaat-beker aan die verloorkant nie.
Grey stel belang om van volgende jaar af aan die Kovsiestreekkompetisie deel te neem. Volksblad, moederkoerant van Bloemnuus, is ’n medeborg van die kompetisie.
Grey wil graag aan die Shimla-liga (vir mediumskole) en Volksblad-liga (vir o.15-spanne) deelneem.
Die skool se jaarlikse interskole teen Paul Roos-Gimnasium sal egter met die halfeindronde van die streekkompetisie bots.
Grey is egter bereid om (indien hy deurdring) sy halfeindstryd in die week te speel.
Die bestuur van die kompetisie wat uit verteenwoordigers van Kovsies en die drie unies se voorsitters en sekretarisse bestaan, sal later ’n besluit oor Grey se deelname neem.
Die Vrystaatse skole het hul vertroue in die bestuur van die Vrystaatse Hoërskole-rugbyvereniging (VHRV) op die jaarvergadering bevestig. Al die lede van die bestuur is onbestrede in hul onderskeie poste herkies. Michael Barker van Fichardtpark is die voorsitter, terwyl Schalk Marherbe (Jim Fouché) en Jimmy Jimlongwe die ondervoorsitters is.
Adolf Swiegers van Sentraal is in die o.18-keurkomitee in die plek van Dirkie Groenewald gekies.
Wessel du Plessis, Grey-kollege- en die Vrystaatse Cravenweek-breier, het ook vir ’n pos in die keurkomitee gestaan.
Roelf Meyer van Grey is ook weer as een van die keurders gekies. Hy het vroeër op die Suid-Afrikaanse Skolerugby-vereniging se jaarvergadering ook sy pos as nasionale keurder behou.
Die o.16-keurkomitee bly onveranderd. Pieter von Solms (Martie du Plessis) se naam is ook vanjaar in die hoed gegooi, maar hy het by die stembus teen Jorrie Grobler (Sentraal), Jannie Geldenhuys (Grey) en Ivan Stevens (Louis Botha) uitgeval.




