Glenwood tweede keer kampioen in Japan
Glenwood is die nuwe kampioen van die jaarlikse Sanix-rugbytoernooi in Japan. Die skool van Durban se eerstespan het Higashi Fukuoka High van Japan in die eindstryd oortuigend met 45-6 verslaan.
Glenwood het ook die eerste Suid-Afrikaanse skool geword om vir die tweede keer in die geskiedenis van die toernooi as kampioen gekroon te word. Glenwood het in 2008 ook die titel as “wêreldkampioen” verower toe hy met 39-0 oor Tarbes van Frankryk in die eindstryd baas was.
Glenwood was ook in 2009 op die toernooi in aksie, maar het toe oor die laaste hekkie teen Dax Landes van Frankryk (30-38) getruikel.
Die span van Durban word deur die voormalige Suid-Afrikaanse Skole-skrumskakel, Rudi Dames, afgerig.
Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch het verlede jaar die kroon gedra toe hy vir Brisbane Boys’ College van Australië in die eindstryd met 35-3 die loef afgesteek het.
Grey-kollege van Bloemfontein was die eerste Suid-Afrikaanse span om as kampioen gekroon te word. Grey was in 2001 die kampioen, terwyl Boland Landbou die volgende jaar met die louere weggestap het.
Glenwood het sy sterkste teenstand van die toernooi teen Rotorua Boys’ High van Nieu-Seeland in die halfeindstryd gekry. Rotorua is al twee keer in 2003 en 2004 as kampioen gekroon.
Glenwood was met 29-12 in die wedstryd baas. Hy het nie veel probleme in sy kwarteindstryd teen Keio High van Japan (61-7) ondervind nie.
Die span van Durban het in sy drie groepwedstryde in Japan vir Queen Victoria High van Fidji (14-10), Toin Gakuen High van Japan (52-3) en Osaka Toin High van Japan (14-0) geklop.
Glenwood is tot dusver onoorwonne vanjaar.




