Gimmies verbreek Welkom-vloek wat sedert 1998 oor Griffon-liga hang
Die eerste rugbyspan van Welkom-Gimnasium het Saterdag in die Pelatona-stadion in Welkom ‘n titeldroogte sedert 1998 vir skolespanne vanuit Welkom verbreek. Gimmies het die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad met 20-15 in ‘n klipharde eindstryd verslaan.
Die sterk wind het Gimmies se planne om die bal hope lug te gee ietwat in die wiele gery. Dit was ‘n wedstryd van twee helftes met die kampioen wat in die eerste helfte sake beheer het. In die tweede helfte het Rooiskool die septer geswaai. Gimmies was laas in 1991 kampioen van die Noord-Vrystaatse liga.
Interresant is dat Gimmies se afrigter, Roean Bezuidenhout, se broer Alrico Bezuidenhout was in 1998 HTS Welkom se heelagter toe hulle as kampioen gekroon was. Tekkies se losskakel, Louis Strydom, en slot AC Vosloo het later ook vir die Perses se seniorspan gespeel.
Rooiskool se slot Michiel Bosman en die agtsteman Johan Steyn het voorlangs vir Gimmies probleme besorg. Hoewel Richman Gora sy tweestryd met Rooiskool se kaptein en skrumskakel, Duncan Horak, agter die oond gewen het, het laasgenoemde ook puik vertoon. Horak se drie was een van die hoogtepunte van die kragmeting. Die verloorspan se senter Louis Steyn mag ook maar vandag breebors rondloop.
Vir die wenspan het die vleuel Tristan Rothman ‘n hele paar sterk lopies ingekry. Die senter Danie Hendricks het goed verdedig voordat hy die veld verlaat het, terwyl Luan James op losskakel ook lof vir sy spel verdien.
Goudveld-Hoërskool se o.15-rugbyspan het met ‘n sege van 22-10 oor Voortrekker van Bethlehem met die kroon weggestap. Gouties sal nou teen Fichardtpark in die halfeindronde van die Kovsiestreek-kompetisie se Jip-liga te staan kom. Volksblad is ‘n medeborg van dié kompetisie. In die ander halfeindstryd sal die Vrystaatse kampioen, Jim Fouché, na Kimberley reis om teen Noord-Kaap te staan te kom.
Die Van Aswegen-wisseltrofee het vir die vierde agtereenvolgende jaar staanplek in Frankfort gekry. Wilgerivier het soos verlede jaar in die Vrystaatse Plattelandse eindstryd vir Bothaville met ‘n enkele punt uitoorlê.
Die span van Frankfort was Saterdag in die Pelatona-stadion met 18-17 baas na ‘n strafdoel deur die slot Cobus Erasmus met slegs ‘n minuut oor op die skeidsregter, Johan du Toit, se horlosie.
Bothaville wat nog nooit as kampioen van die Vrystaatse Platteland gekroon kon word nie, het verlede jaar teen die eindste Wilgerivier met 20-19 die knie gebuig.
Wilgerivier sal nou teen President Steyn in die halfeindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) te staan kom. In die ander halfeindstryd pak St. Andrew vir Kathu.
Bultfontein se senter Arno Taljaard het met ‘n driekuns die toon aangegee in sy span se oortuigende sege van 66-17 oor die Hoërskool Retief van Kestell in die eindstryd om te bepaal wie tot die streekkompetisie se Colts-liga sal deurdring.
Hoopstad moes hom Vrydag aan die eindstryd onttrek na hy nie ‘n span bymekaar kon sit om in lyn met Bokssmart se ouderdoms-reëls te kom nie.
Puntemakers:
Welkom-Gimnasium 20 (13) – Drieë: Jerome Lottering, Ezrick Alexander. Doelskoppe: Luan James. Strafdoele: James (2). AHS Kroonstad 15 (8) – Drieë: Duncan Horak, Charl du Plessis. Doelskop: Corné Cooper. Strafdoel: Cooper.
Wilgerivier 18 (10) – Drieë: Schalk Wilkinson, GJ Janse van Rensburg, Morné Coetzee. Strafdoel: Cobus Erasmus. Bothaville 17 (5) – Drieë: JP Korkie, Wian Nell, Drikus Klopper. Doelskop: Carlo Kleynhans.
Bultfontein 66 – Drieë: Arno Taljaard (3), Bernard Fourie (2), GJ van Eeden, Tshepang Mocholotsi, Desmond Grobler, Jano Smit, Erik Helm. Doelskoppe: Taljaard (3), Fourie (3), Van Eeden (2). Hoërskool Retief (Kestell) 17.




