SuperSport Schools News

Gimmies sluk tweede jaar in ‘n ry ‘n Galpil

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-08-07

NewsG PaarlBoishaaiAgt SA Skole-spelers het Saterdagmiddag in die grootste interskole-rugbywedstryd ter wêreld nie veel meer as twee geweeg nie.

Die Hoër Jongenskool Paarl, met sy agt SA Skole-spelers, was naelskraap met 26-25 beter as sy aartsvyand Paarl Gimnasium. Gimmies het teen die omdraaislag ’n voorsprong van 11-6 geniet.

Dit was die eerste keer sedert 2001 dat Boishaai daarin kon slaag om Gimmies twee jaar agtereenvolgens te klop. Meer as 25 000 toeskouers het die wedstryd bygewoon.

Boishaai het in die tweede helfte eers vir die eerste keer in die wedstryd die voortou geneem nadat sy SA Skole-agtsteman, Khanya Ncusane, in die hoek oorgeduik het terwyl Gimmies se vleuel, Muller du Plessis, in die koelkas was.

Boishaai se doeltreffendheid by die afbreekpunte asook sy stewige rolmaalbewegings was deurslaggewend. Sy SA Skole-haker, Daniël Jooste, het twee keer vanaf rolmaalbewegings oorgeval. Die eerste van sy drieë was ook toe Du Plessis nog van die veld af was.

Gimmies se agttal sal wel breebors rondloop na hy ’n vaskop gehaak het met die eerste skrum waarin Boishaai die bal ingegooi het. Dit is inderdaad indrukwekkend gegewe dat ses van Boishaai se agttal volgende week vir die nasionale skolespan diens doen.

Van die tien nasionale skolespelers op die veld het Boishaai se buitesenter, Manuel Rass, en Gimmies se agtsteman, Muller Uys, die meeste beïndruk.

Rass het elke keer wat hy aan die bal gevat het probleme aan Gimmies besorg, terwyl Uys nooit gaan lê het nie. Hy het die bal sterk gedra en ook ’n paar keer by die losgemale behoorlik ingeklim.

Die naam van Boishaai se slot en kaptein, Salmaan Moerat, sal nog baie in die toekoms gehoor word. Hy sal ook die nasionale skolespan op die veld lei.

Die wenspan se losskakel, Rayhaan Lombard, se ervaring was ook duidelik te sien hoe hy kalm onder druk die leier agterlangs was. Dié kragmeting was sy 65ste vir Boishaai se eerstespan wat ’n rekord vir sy skool is.

Boishaai het sy onoorwonne status na 38 agtereenvolgende wedstryde gerek. Die skool se tweede span is boonop ook nog onoorwonne die afgelope twee jaar. Boishaai se ongelooflike vertoningslys behoort eers weer aanstaande jaar, wanneer hy deur Nieu-Seeland toer, in gedrang te wees.

Puntemakers:

Hoër Jongenskool Paarl 26 (6): Drieë: Daniël Jooste (2), Khanya Ncusane. Doelskop: Gianni Lombard. Strafdoele: Lombard (3). Paarl Gimnasium 25 (11): Drieë: Zak Burger, Christopher Willemse, Theo Boshoff. Doelskoppe: Boshoff (2). Strafdoele: Boshoff (2).

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.