‘Gehuurde’ spelers dryf Affies uit
Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het besluit dat vanjaar se rugby-kragmetings met onderskeidelik Garsfontein en Menlopark nie dié jaar sal plaasvind nie.
“Ek het die redes vir ons besluit persoonlik aan mnr. Leon Bantjes (hoof van Garsfontein) oorgedra. Affies het ’n beleid dat ons nie teen skole sal speel wat van sogenaamde post-matrieks of huursoldate gebruik maak nie,” het dr. Pierre Edwards, hoof van Affies, gesê.
Volgens Edwards gaan dit ook suiwer oor die deelname van Affies se seuns. Interskole-byeenkomste waar al die spanne van die skool speelkans kry, geniet voorrang bo ander geleenthede.
“Dit is hoekom ons jaarliks teen skole soos Grey Kollege, Boys High, Maritzburg College en Waterkloof speel.”
“Ons groot probleem is die feit dat o.19-spelers van die hele land (deur sekere skole) bymekaar gemaak word. Skole vanuit die Kaap waarmee ons ’n goeie verhouding het, is woedend oor van hul spelers wat afgerokkel is,” het Edwards gesê.
Francois de Kock, Garsfontein se hoof van rugby, het gesê dat hoewel hulle teleurgesteld is, eerbiedig hulle Affies se besluit.
Tesame daarmee dat die wedstryde boonop in die eksamentyd sou plaasvind, is daar volgens dié voormalige Springbok-heelager te veel op die spel.
Die wedstryd teen Menlopark sou aanvanklik op 15 Maart beslis gewees het, dit is egter geskuif na 4 Junie omdat Affies weens die hoë reënval destyds nog nie proewe kon hou nie. Dié wedstryd van 4 Junie is afgestel oor dit in eksamentyd sou plaasvind. “Ons interskole met Menlopark is nie af nie. Ons sal volgende jaar teen hulle speel,” het Edwards gesê.
Hoewel Affies se eerstespan nie vanjaar die krag is wat hy verlede jaar was nie, tel die skool se juniorspanne onder die voorstes in die land.
“Die wedstryde teen Affies was veral vir ons junior-spanne belangrik ter voorbereiding vir die Beeld-trofee. Hulle sou ons junior-spanne se grootste toets in die liga gewees het,” het Dean van der Watt, rugbyhoof van Menlopark, gesê.
Edwards sê voorts ook dat gerugte wat die ronde doen dat hulle bang is, van alle waarheid ontbloot is. “As ons bang was, sou ons nie teen skole soos Grey-kollege gespeel het nie,” het Edwards gesê.
Affies het verlede Saterdag ’n naelskraapse sege van 21-20 oor Centurion behaal.
Centurion het Menlopark vroeër vanjaar met 35-32 getroef. Affies se onttrekking teen Menlopark het waarskynlik die span se kanse om bo Centurion op die puntelys te eindig beïnvloed.
Menlopark se nederlae teen Waterkloof (55-30) en Garsfontein (41-29) beteken dat die span se kragmeting met Eldoraigne op 21 Junie nou waarskynlik sal bepaal wie die Blou Bulle se vierde span in die Makro-afdeling van die Beeldtrofee sal wees.
Die span wat vierde in die Bulle se liga eindig, speel uit teen die wenner van die afdeling waarin Wonderboom, Montana, Zwartkop en HTS John Vorster meeding.
Dit maak dié span se pad in die Beeldtrofee aansienlik moeiliker as die voortste drie spanne in die liga.
Nadat verskeie skole in die verlede teen Affies onttrek het, het dié skool verlede jaar gevra dat dit op die Blou Bulle se hoërskole-vereniging se jaarvergadering bespreek word. Daar is besluit dat ’n skool al sy sal verbeur as hy onttrek.
Die besluit raak Affies egter nie omdat hulle nie aan die Beeldtrofee deelneem nie.
- Southern teams impress as FNB u18 Craven Week heats up - 2025-07-11
- Results – FNB u18 Craven Week 2025 – Day 4 - 2025-07-10
- Free State soars as Mgedezi and Adams star in Craven Week thriller - 2025-07-10