SuperSport Schools Plus

Garsfontein vir die derde jaar in ry in Beeldtrofee eindstryd

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-08-24

Garsfontein se eerste rugbyspan sal vir die derde agtereenvolgende jaar in die eindstryd van die Virseker Beeldtrofee vir Makroskole in aksie wees.

Garsies het Monument op die Ras van Rooyen-veld hier met 35-20 in die halfeindstryd van die reeks verslaan. Die besoekers het teen rustyd reeds ’n voorsprong van 22-8 opgebou.

Monnas het lusteloos vertoon en die SA Skole-wedstryde het duidelik baie uit sy kaptein en haker, PJ Botha, en loskopstut, Nathan McBeth, geneem. Die twee het nie dieselfde spel opgedis wat aan hulle nasionale skolebaadjies in die kas besorg het nie. Dit was die legendariese skoleafrigter, Hans Coetzee, se laaste wedstryd as Monnas se breier.  

Garsies sal Saterdag op sy tuisveld in Pretoria sy titel as kampioen van die Makroskole teen EG Jansen van Boksburg verdedig.

Bees Ferreira, haker van Garsfontein, het die veld vol gespeel. Hy het met goeie opvolgwerk die aanvoorwerk vir die vaskopstut, Hendré Eloff, se drie gedoen. Steinhöbel en Garsies se kaptein en agtsteman, Luke Fortuin, was saam met Ferreira die beste voorspelers op die dag.

Agterlangs was niemand beter as Garsies se binnesenter, Wesley Thompson, nie. Hy het amper na willekeur bresse in Monnas se verdediging geslaan. Hoewel die SA Skole-skrumskakel, Embrose Papier, een van sy stilste wedstryde beleef het, het hy die aanvoorwerk vir Thompson se drie met ’n skitterende breekslag gedoen.

Vir Monnas kan sy plaasvervanger-heelagter, Bakkies Potgieter, en die slot, Ruan Vermaak, tevrede met hul vertonings voel.

Garsfontein se twee junior-spanne (o.14 en o.16) het ook hul plekke in die eindstryd bespreek. Garsies  se o.14-span het sy eweknie van Monnas naelskraaps met 15-14 geklop. In die o.16-halfeindstryd het Garsfontein ook die sege met 15-12 van Monnas af gegaps.

In die halfeindstryd tussen EG Jansen en Waterkloof se o.15-spanne het eersgenoemde met 29-18 sy plek in die eindstryd bespreek. Die twee spanne moes hul wedstryd oorspeel na hul Saterdag met gelykop gespeel het sonder dat enige van hulle punte kon aanteken.

Puntemakers:

Garsfontein 35 (22) – Drieë: Austin Davids, Luke Fortuin, Wesley Thompson, Hendré Eloff. Doelskoppe: Davids (2), Thompson. Strafdoele: Davids (3). Monument 20 (8) – Drieë: Bakkies Potgieter (2), PJ Botha. Doelskop: Xander Kruger. Strafdoel: Kruger.  

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.