SuperSport Schools Plus

Garsfontein vir derde jaar in ‘n ry kampioen

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-06-04

Die Hoërskool Garsfontein se eersterugbyspan is vir die derde agtereenvolgende jaar die Makro-kampioen van die Blou Bulle. Die Turkoois Bere van Garsies het die Hoërskool Waterkloof met 50-10 gebere om die titel te beklink.

Garsfontein het met dié sege dit ook beklemtoon dat hy nie maklik afstand van sy titel as kampioen van die Virseker Beeldtrofee gaan doen nie. Garsies het danksy dié sege direk tot die kwarteindronde van die kompetisie deurgedring.

Garsies het reeds vroeg in die wedstryd dit duidelik gemaak dat hy nie veel van sy balbesit gaan wegskop nie. Hulle het met feitlik al hul balbesit in hul eie kwartgebied teenaanvalle geloods.

Klofies het op sy tuisveld nie so goed na sy balbesit omgesien soos wat hy graag sou wou nie. Die span het ook nie die voordeellyn aangeval nie, wat sy deurdringensvermoë ingeperk het. Die span se senterpaar, Sean du Plooy en Lund Roos, het wel ’n paar keer daarin geslaag om gapings in die besoekers se verdediging te vind.

Die twee spanne het met die telling op 17-5 in Garsies se guns gaan rus. Dit was eers in die tweede helfte wat Garsfontein tot ’n hoër rat oorgeskakel het. Dit was die wenspan se haker, Bees Ferreira, en sy agteman, Luke Fortuin, wat deurgans gesorg het dat hul span voorlangs die oorhand het.

Agterlangs het die senter Lincoln Daniels en die vleuel Shaun Williams goeie wedstryde beleef. Garsies het boonop sonder sy Junior Bok-skrumskakel, Embrose Papier, en sy SA Skole A-span slot en heelagter, PJ Steenkamp en Abner van Reenen, gespeel. Al drie behoort terug in die Bere se geledere te wees wanneer die Virseker Beeldtrofee se uitspeelwedstryde begin.

Puntemakers:

Garsfontein 50 (17): Drieë: Wesley Thompson (2), Hendré Eloff, Lincoln Daniels, Emillio Adonis, Austin Davids, Henk de Leeuw, Shaun Williams. Doelskoppe: Davids (4), Bees Ferreira. Waterkloof 10 (10): Drieë: Duhann Gunter, Eduard Pretorius.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.