SuperSport Schools Plus

Garsfontein vermy slaggat in Kempton Park

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-03-21

NewsG RynoPieterseDie eerste rugbyspan van die Hoërskool Garsfontein het ‘n slaggat in die Tuks-reeks vermy deur Kempton Park met 18-8 te klop. Garsies moes Dinsdagaand sonder sy SA Skole-senter, Diego Appollis, en skrumskakel, Jurich Claassens, na Kempton Park reis.

Appollis en Claassens woon Saru se o.18 hoë-prestasie kamp in Stellenbosch by. Albei was Saterdag vir die Garsie Bere in hulle sege van 24-20 oor Boland Landbou in die Agter-Paarl in aksie.

Kempies se binnesenter, Ruben Fullard, het eerste bloed getrek deur ‘n strafdoel tussen deur die pale te jaag. Albei spanne se stelskoppers het egter nie ‘n goeie dag beleef nie. Fullard het drie strafdoele skeef gekorrel. Hy was ondanks die feit steeds een van sy span se staatmakers.

Garsies het onmiddelik terug geslaan met sy haker, Ricardo Botha, wat gaan druk het. Fullard se sentermaat, Werner Schoeman, het soos ‘n warm mes deur botter ‘n gaping in Garsies se verdediging geslaan om aan sy span ‘n voorsprong van 8-5 teen die omdraaislag te gee.

Kort na rustyd het Garsies se vleuel Dillon Olckers met ‘n strafdoel van 50 meter geslaag om sake gelyk te trek. Hy het self vier pogings pale toe mis geskop. Garsies se losskakel, Campwill Willemse, het ook vroeg in die wedstryd ‘n strafdoel skeef getrek.

Garsies se heelagter, Juandré Scheepers, en senter Kallie Calitz het kort na mekaar die doellyn oorgesteek om aan hul span die sege te besorg. Scheepers het gaan druk na die binnesenter, Austin Martin, ‘n steekskoppie geskop het wat reg vir sy sentermaat, Calitz, gewip het. Scheepers het in die hoek oorgeduik.

Calitz se drie het na binne aangee gekom wat ‘n gaping vir hom oopgemaak het. Hy het oor die nodige vaart beskik om die beweging af te rond. Vir Garsies verdien die flank Johandré Buitendag lof vir sy harde werk by die afbreekpunte. Hy was ook woelig in die los.

Kempies het hope durf gewys en buiten sy twee senters, Fullard en Schoeman, het die stut Kabous Bezuidenhout ‘n goeie vertoning beleef.

Garsfontein kom Saterdag in Vanderbijlpark teen Transvalia te staan, terwyl Kempton Park teen Monument se Wit Bulle te staan sal kom.

Garsfontein se tweede rugbyspan, die Grizzlies, het sy wedstryd teen sy eweknie van Kempies gemaklik met 59-13 gewen. Die tuisspan het moedig probeer, maar kon in die tweede helfte nie meer al die gate toestop nie.

Die Grizzlies het laas in 2016 die knie gebuig.

Puntemakers:

Garsfontein 18 (5) – Drieë: Ricardo Botha, Juandré Scheepers, Kallie Calitz. Strafdoel: Dillon Olckers. Kempton Park 8 (3) – Drie: Werner Schoeman. Strafdoel: Ruben Fullard.

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.