SuperSport Schools Plus

Fichies sorg vir reuse opskudding, Bornman is Trio se baas

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-07 Tags: , , , , , , , , ,

Foto: Absolute Photos – Dirkie Groenewald.

Die feesvieringe in Bloemfontein loop hoog nadat die gasheerspan, Hoërskool Fichardtpark, ‘n uitstaande vertoning gelewer het vir die grootste opskudding tot dusver by vanjaar se Kovsie Smash-toernooi.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die Fichies het hul ondersteuners op die punte van hul stoele gehou om uiteindelik ‘n naelbytsege met 11 lopies oor een van die vroeë gunstelinge, Hoërskool Rustenburg, te behaal.

Die tuisspan moes eerste die taai kolftoestande trotseer, met die Rusties se Henry Kemp en kaptein, Thian Labuschagne, wat van meet af kwaai druk toegepas het. Kemp het sy boulskof met uitstekende syfers van 3/11 afgesluit, terwyl Labuschagne met 2/16 kon spog, maar die Fichies se aanvangskolwer, Marno Smith, het verbete vasgeskop. Sy kritieke beurt van 28 aflewerings het 36 lopies opgelewer om sy span verby die 100-merk te neem.

Met die tuisveldvoordeel en heelwat selfvetroue na ‘n uiters goeie vertoning met die bal gedurende die oggendsessie, het Davyd Oosthuizen weer sy pond vleis tafel toe gebring om as aanvangsbouler sy toegelate vier beurte agtereenvolgens af te stuur. Dié besluit het vrugte afgewerp met Oosthuizen wat drie slagoffers vir slegs 16 lopies geëis het.

Fichies se kaptein, Stian Kruger, en Nathan Ackerman het elk ook twee paaltjies laat kantel om die Rusties, teen alle verwagtinge in, in die 19de beurt vir 92 lopies uit te boender.

Merensky Landbou Akademie het, danksy staatmaker, Rinaldo Bornman, sy eerste sege van die toernooi behaal. Bornman, wat in die Plasies se vorige twee wedstryde reeds belowend vertoon het met die kolf, het met ‘n teiken van 90 lopies om te wen, danksy kranige boulwerk deur Bornman (2/17) en Cashan Jacobsz (2/16), behoorlik losgetrek.

Hy het slegs 38 aflewerings benodig om 51 lopies aan te teken teen ‘n treftempo van 134,2. Sy wenbeurt het ses grenshoue ingesluit en beteken dat die Plasies vir Hoërskool Trio met vyf paaltjies kon kafdraf.

Eduard Dreyer het weer gewys hoekom hy ‘n groot gevaar vir enige van Wesvalia se toekomstige teenstanders inhou. Die Wessies se aanvangskolwer het die hoogste telling tot dusver by vanjaar se toernooi aangeteken. Dreyer het ses grenshoue in sy onoorwonne 73 lopies gemoker, wat van net 62 aflewerings gekom het.

Ethan Walker (3/13) en Quwen Fourie (2/16) het oudergewoonte skade met die bal aangerig om vir Overvaal tot net 105/6 beperk, 44 lopies kort van die wenteiken. EW Botes het kop en skouers bo die res van die Overvaal-kolwers uitgestaan om met ‘n onoorwonne 33 teen die sterk Wesvalia-boulaanval te spog.

Oos-Moot se Elrich Visagie het Hoërskool Driehoek se kolflys vermorsel met ‘n boulvertoning wat nog vir lank sal onthou word. In die 3.5 beurte wat hy afgestuur het, het hy vier paaltjies te laat spat en slegs nege lopies afgestaan.

Danie Corbett het hom goed bygestaan met syfers van 3/14, wat beteken het dat Driehoek met ‘n skamele totaal van 39 tevrede moes wees.

Beknopte telkaarte:

Fichardtpark 103 (Marno Smith 36; Henry Kemp 3/11, Thian Labuschagne 2/16, Marnus de Witt 2/21); Hoërskool Rustenburg 92 (Dehan Jacobs 26; Davyd Oosthuizen 3/16, Nathan Ackerman 2/5, Jaden Geldenhuys 2/17). Fichardtpark wen met 11 lopies.

Trio 90/8 (Theuns van Rensburg 21; Cashan Jacobsz 2/16, Rinaldo Bornman 2/17); Merenksy 91/5 (Rinaldo Bornman 51; Myburgh Jacobs 2/22). Merensky wen met vyf paaltjies.

Wesvalia 149/5 (Eduard Dreyer 73*; Zander Olivier 2/30); Overvaal 105/6 (EW Botes 33*, Roche le Rouch 20*; Ethan Walker 3/13, Quwen Fourie 2/16). Wesvalia wen met 44 lopies.

Driehoek 39 (Ekstras 15; Elrich Visagie 4/9, Danie Corbett 3/14); Oos-Moot 41/1 (Chrisjan van Staden 23*; Louis Pieterse 1/5). Oos-Moot wen met nege paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.