SuperSport Schools Plus

Fichies bo in titaniese stryd teen Rooiskool

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-03-04

NewsFichardtparkSpanDit was ‘n titaniese stryd na maar 70 minute se spel kon die Hoërskool Fichardtpark se eersterugbyspan kop omhoog van die veld na sy sege van 25-23 oor die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad in die hoofwedstryd van die jaarlikse McDonalds Sportdag stap. 

Fichies was teen rustyd met hul rûe teen die muur met Rooiskool wat met die omdraaislag ‘n voorsprong van 20-14 opgebou het. Rooiskool se heelagter, Chappies van der Walt, het met ‘n strafdoel sy span se enigste punte in die tweede helfte aangeteken. 

Dié sege so sou boonop soet vir geharde ondersteuners van Fichardtpark se rugby gewees het. Die twee spanne het mekaar laas in 2009 in die hoofwedstryd van die sportdag gepak. Rooiskool het op daardie dag aan Fichies ‘n loesing van 26-8 toegedien. 

Fichies se agtsteman, Herman Steenkamp, asook die slot en kaptein, Jaco Snyman, het voorlangs die harde werk ingesit. Agterlangs het die senterpaar, Rino Kok en Kobus Duvenhage, asook die heelagter, Jannes de Jager, blink vertonings vir die gasheer gelewer. 

Vir Rooiskool verdien Van der Walt, die agtsteman Marius Liebenberg en die haker, Valie Wiggens, ‘n klop op die skouer vir hulle vertonings. 

Noord-Kaap het met ‘n sege van 30-10 oor Louis Botha gewys dat hy vanjaar ook ‘n sterk aanspraakmaker in die nuwe Wesgrow Sentrale Skole-reeks behoort te wees. Die span van die Diamantstad het teen rustyd ‘n skrale voorsprong van 13-10 geniet. 

Die wenspan se slot Leo Koortzen was op sy stukke en het ‘n driekuns aan drieë behaal. Agterlangs het die buitesenter, Elzandro Fredericks, ook ‘n uitstaande vertoning opgedis. 

Louis Botha is vroeg in die wedstryd ‘n slag toegedien toe sy vaskopstut, Vincent Phatlane, die veld weens ‘n ontwrigte skouer moes verlaat. Die goeie nuus uit die besering is dat die plaasvervanger-stut, Kanalelo Mofokeng, hom so goed van sy taak gekwyt het, dat hy waarskynlik vir hom ‘n plek in die beginspan losgespeel het. 

Die slot Ofentse Maputsi het kan ook tevrede met sy vertoning voel. Louis Botha het ook sy binnesenter en kaptein, Martin Lottering, weens krampe in die wedstryd verloor, wat sonder twyfel ‘n impak in die span se vertoning gehad het. 

Welkom Gimnasium het in die tweede helfte van sy kragmeting teen die Wolramme van Marlow Landbou behoorlik vlam gevat om ‘n oortuigende sege van 41-7 te behaal. Gimmies het rustyd reeds ‘n voorsprong van 19-7 geniet. 

Die span van Welkom het die bal behoorlik lug gegee, terwyl die Wolramme van Cradock nie hul beste dag op kantoor beleef het nie. 

Gimmies se agtsteman, Keke Morabe, het met sy lopies beïndruk, terwyl Georgenm Kiewiet (skrumskakel) en Keith van Aswegen (senter) ook lof vir hul aandeel in die sege verdien. 

Puntemakers:

Hoërskool Fichardtpark 25 (14) – Drieë: Jannes de Jager, Renaldo Davids, Damian Gericke. Doelskoppe: Kobus Duvenhage (2). Strafdoele: Duvenhage (2). AHS Kroonstad 23 (20) – Drieë: Thatu Mapimpi, Zander Smith. Doelskop: Chappies van der Walt. Strafdoele: Van der Walt (3). 

Hoërskool Noord-Kaap 30 (13) – Drieë: Leo Koortzen (3), Elzandro Fredericks, Andries Jacobs. Doelskop: Fredericks. Strafdoel: Craig Ockhuis. Louis Botha 10 (10) – Drie: Ofentse Maputsi. Doelskop: Jaden Seekoei. Strafdoel: Seekoei. 

Welkom Gimnasium 41 (19) – Drieë: Marno April (2), Christo Steyn, Jaime Heynes, Martley Bayman, JP de Kock. Doelskoppe: Ryan Davids (4). Strafdoel: Davids. Marlow Landbou 7 (7) – Drie: Jaco Nell. Doelskop: Claude Jacobs.

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.