Fichardtpark se Clover-sportdag bepalings vir 2016
Die Hoërskool Fichardtpark sal op sy jaarlikse sportdag in die hoofwedstryd van die dag teen Landboudal van Jacobsdal kragte meet. Fichies se Clover Sportdag is die grootste skolesportdag in Suid-Afrika. Nie minder as 32 skole se eerste rugbyspanne sal op 5 Maart in die Rosestad op die dag in aksie wees nie.
Dit sal vanjaar die 15de keer wees wat Fichardtpark die sportdag aanbied. Die eerste sportdag is in 2002 gehou. Fichies het verlede jaar met 24-elk gelykop in die hoofwedstryd teen Hentie Cilliers van Virginia gespeel.
In die vernaamste voorwedstryd vir die hoofgereg het Sentraal ‘n appeltjie met Marlow Landbou van net buite Cradock te skil. Die laaste keer wat die twee spanne mekaar in Bloemfontein ontmoet het was in 2008 op die Hoërskool President Steyn se sportdag op ‘n dag wat die Bloktruie liefs wil vergeet.
Marlow Landbou het op daardie dag met sy losskakel, Gouws Prinsloo, aan die spits vir Sentraal ‘n loesing van 94-14 toegedien. Prinsloo, wat deesdae heelagter vir Griekwas se seniorspan speel, het 37 van sy span se punte via ‘n driekuns aan drieë en 12 doelskoppe aangeteken.
Die twee spanne het mekaar ook verlede jaar op die Hoërskool Oudtshoorn se TopSkole-toernooi die stryd aangese. Hier was Marlow Landbou met 14-12 baas.
Een van die hoogtepunte van die sportdag behoort die kragmeting teen die Griffon-kampioen, Welkom-Gimnasium, en die Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley te wees. Gimmies se Richman Gora behoort sy span se oond skoon te maak na hy verlede jaar meestal op vleuel diens gedoen het. Hy was die groot doring in die Vrystaat se vlees vir die Perses op verlede jaar se Cravenweek in Stellenbosch. Noord-Kaap het in sy geledere een van die voorste driedrukkers op skolevlak verlede jaar in Suid-Afrika in die haastige vleuel Cameron Hufke.
Die bepalings is:
A-veld
08:00 – Hentie Cilliers vs. Kalahari
09:10 – Diamantveld vs. Goudveld-Hoërskool
10:20 – AHS Kroonstad vs. Hoerskool Upington
11:30 – Welkom Gimnasium vs. Noord-Kaap
12:40 – Louis Botha vs. Witteberg
13:50 – Jim Fouche vs. Duineveld
15:00 – Sentraal vs. Marlow Landbou
16:10 – Dynamic Diesel Fichardtpark vs. Landboudal
B-veld
08:00 – Koffiefontein vs. De Aar II
09:10 – Ficksburg vs. Hopetown
10:20 – Hoërskool Middelburg (Oos-Kaap) vs. Hoopstad
11:30 – Aliwal-Noord vs. Hendrik Potgieter (Reddersburg)
12:40 – Burgersdorp vs. Hennenman
13:50 – Hangklip vs. Zastron
15:00 – President Steyn vs. De Aar
16:10 – Sand du Plessis vs. HTS Welkom




