SuperSport Schools Plus

Ferreira beklink Ermelo sege met drie in die doodsnikke


Die Hoërskool Ermelo het sy plek in die kwarteindronde van die SDC Noordvaal Cup se Groep 2-uitspele danksy ‘n drie deur sy agtsteman, Tredoux Ferreira, bespreek.

Ermelo het ‘n strafskop op die halflyn in die laaste minuut van die kragmeting gekry wat sy skrumskakel, Carel Jacobsz, oor die kantlyn gejaag het.

Ferreira het kort daarna gaan druk om aan sy span ‘n sege van 32-29 oor Brandwag van Benoni te besorg.

Jacobsz was ook een van sy span se staatmakers. Hy het een van Ermelo se drie drieë gedruk, met een doelskop geslaag en ook drie strafdoele tussen deur die pale gejaag.

Ermelo sal in sy kwarteindstryd teen HTS John Vorster van Pretoria te staan kom.

HTS John Vorster was met 44-40 bobaas in ‘n opwindende wedstryd teen Ben Viljoen van Groblersdal. Nie eers ‘n vierkuns aan drieë deur die besoekers se losskakel, Mignon Stevens, kon hul van ‘n nederlaag red nie.

Dit was ‘n stryd tussen die tuisspan se gedugte agttal en Ben Viljoen se agterhoede. Stevens was vroeër vanjaar as heelagter een van die staatmakers tydens die Stadio Cravenweek in Krugersdorp vir die Limpopo Blou Bulle.

HTS John Vorster se kaptein en slot, SJ van Mourik, het in sy 50ste wedstryd vir die eerstespan ‘n topklas vertoning opgedis. Die agtsteman, Tiaan van Loggerenberg, het ook met sy spel beïndruk.

Die binnesenter, Xander Roesch, se skopstewels was nie geroes nie. Hy het 17 punte met sy skopskoen aangeteken. Hy het al vier sy span se drieë verdoel en ook drie strafdoele tussen deur die pale gejaag.

Die verdedigende kampioen, Midstream College, het ‘n reuse aanslag van die Hoërskool Hans Strijdom van Mookgophong  in hul uitspeelwedstryd oorleef. Die wenspan het met 43-32 koning gekraai nadat Hans Strijdom na 15 minute se spel ‘n voorsprong van 17-0 opgebou het.

Midstream College het goed daarna terruggeveg om teen rustyd met 19-20 agter te loop. Die wenspan se loskopstut, Leeunard Ehlers, was op die dag sonder twyfel sy span se beste speler op dié dag. Hy het elke keer wat hy die bal onder die arm vasgeknyp het soos ‘n wafferse losvoorspeler oor die voordeellyn gestorm.

Hy het selfs twee keer op dekverdediging gekeer dat Hans Strijdom se vleuels gaan druk.

Midstream College se heelagter, Luca Jankovic, het ook amper ‘n foutlose dag vanaf die skopkegel beleef. Hy het vier van sy span se vyf drieë verdoel en ook met ‘n strafdoel geslaag.

Vir Hans Strijdom het die vaskopstut, Wynand Geyer, en kantman Marcus van der Walt voorlangs uitstaande spel gelewer. Agterlangs was die losskakel, MW de Jager, en buitesenter, Lewaldt Ferreira, uitmuntend.

Midstream College sal in die kwarteindronde teen Overkruin te staan kom. Die kampioen het vroeër vanjaar se Blou Bulle ligawedstryde tussen die twee skole met 33-27 gewen.

Overkruin het sy plek in die kwarteindronde met ‘n indrukwekkende sege van 29-13 oor die Valke-kampioen, Oosterlig, bespreek. Oosterlig is welverdiend as Valke-kampioen gekroon, maar het nie op alle silinders in die uitspeelwedstryd teen die Ovies gevuur nie.

Die Ovies se losskakel, Marnus Rademeyer, was vuurwarm. Hy het 14 van sy span se punte in die sege aangeteken. Hy het ‘n draai agter die doellyn gemaak, drie van sy span se drieë verdoel en ook ‘n strafdoel oorgeklits.

Oosterlig se regtervleuel, Dylan Jordaan, het al sy span se punte aangeteken.

Puntemakers: 

Ermelo 32 (8) – Drieë: Tredoux Ferreira, Siyanda Yende, Carel Jacobsz. Doelskop: Jacobsz. Strafdoele: Jacobsz (3). Brandwag (Benoni) 29 (17) – Drieë: Tyrese Baatjies, Logan Turvey, Jayden Diedericks. Doelskoppe: Jason Coetzer (3). Strafdoele: Coetzer (2).

HTS John Vorster 44 (31) – Drieë: SJ van Mourik, Heinrich Coetzee, Tiaan van Loggerenberg, Andrew Botha. Doelskoppe: Xander Roesch (4). Strafdoele: Roesch (3). Ben Viljoen 40 (21) – Drieë: Mignon Stevens (4), Joe Cloete, Mihlali Ntlebi. Doelskoppe: Janik Brits (5).

Midstream College 43 (19) – Drieë: Yanko Cronjé (2), Leeunard Ehlers, Thomas Stofberg, Neil de Vleeschauawer, Nathan Judelson. Doelskoppe: Luca Jankovic (5). Strafdoel: Jankovic. Hans Strijdom 32 (20) – Drieë: Wynand Geyser (2), Henrico van der Colf, Louis Joubert, Janneman Benson. Doelskoppe: Van der Colf (2). Strafdoel: Van der Colf.

Overkruin 29 (22) – Drieë: Leequine Fredricks, Waylon Oncke, Justin Kunz, Marnus Rademeyer. Doelskoppe: Rademeyer (3). Strafdoel: Rademeyer. Oosterlig 13 (6) – Drie: Dylan Jordaan. Doelskop: Jordaan. Strafdoele: Jordaan (2).

Ander spanne: 

o.16: Lydenburg wen (Hans Moore gee punte); Ellisras 18, HTS John Vorster 15; Centurion 43, Frikkie Meyer 15; Oosterlig 17, Wonderboom 3; Dinamika 26, Midstream College 14; HTS Witbank 21, HTS Tom Naudé 19; Ben Viljoen 19, Ermelo 18; Bergsig 54, Brandwag 19.

o.15: Ermelo wen (Hans Moore gee punte); Ellisras 28, Bergsig 12; Midstream College 30, Frikkie Meyer 6; Dinamika 29, Hoërskool Tuine 7; Leeuwenhof 34, Pretoria-Noord 8; Ben Viljoen 26, Rob Ferreira 12; Hans Strijdom 19, HTS Witbank 15; Centurion 24, Oosterlig 13.

o.14: Lydenburg wen (Hans Moore gee punte); Bergsig 27, Ellisras 7; Midstream College 34, Hans Strijdom 5; Brandwag 42, Wonderboom 8; Dinamika 52, Pretoria-Noord 0; Ermelo 19, HTS Tom Naudé 12; Ben Viljoen 56, Ferrum 0; Centurion 19, Leeuwenhof 10.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.