Eldos verras Rooi Bulle; Grey speel gelykop
Die Hoërskool Eldoraigne se rugbyspan het vir die eerste verassing van die skolerugby-seisoen van 2015 gesorg toe hy op sy tuisveld vir HTS Middelburg met 22-14 die loef afgesteek het.
Eldos se bonkige loskopstut, Nathan Prinsloo, was die groot held in die span van die Jakaranda se mees noemenswaardige sege die afgelope paar jaar. Hy het ‘n paar goeie lopies ingekry, maar dit was in die skrums waar hy die Rooi Bulle behoorlik opgedons het. Die vaskopstut, Morné Smith, het ook in die skrums gehelp om die oorhand te bewerkstellig.
Die wenspan se kaptein en agtsteman, Brendan Heymans, het ook goed vertoon voordat hy in die tweede helfte met ‘n draagbaar na ‘n harde duikslag die veld verlaat het. Vir die Rooi Bulle het sy flank, JC Pretorius, ‘n skitterende individuele drie vanuit sy eie halfgebied in die eerste helfte afgerond.
EG Jansen en Transvalia was op eersgenoemde se tuisveld in Boksburg in ‘n drieëfees betrokke. Die gasheer het oortuigend met 95-38 as oorwinnaars van die veld gestap. Die span se losskakel, Xander Crause, het vir die tweede week in ‘n ry die doellyn drie keer oorgesteek.
Grey-kollege se rugbyspan kon vir die eerste keer sedert 1979 nie daarin slaag om ‘n span van Kimberley tot oorgawe te dwing nie. Die voorste rugbyskool in die land het met 34-elk gelykop teen Diamantveld in die Diamantstad gespeel.
Die besoekers het na slegs 13 minute met 22-0 voorgeloop en op hierdie stadium het dit gelyk asof Diamonds ‘n lag middag te wagte kon wees.
HTS Kimberley het in 1979 vir Grey met 11-9 onder die aanvoering van Eddie Lightfoot geklop. Diamonds se losskakel, Gerco Nortjé, het 19 van sy span se punte aangeteken.
Louis Botha se Vrystaatse Cravenweek-losskakel, Jeandré Christian, was in ‘n verwoestende bui teen HTS Welkom in die hoofwedstryd van die span van die Rosestad se jaarlikse sportdag.
Christian het 35 punte tot sy span se gemaklike sege van 50-0 oor die besoekers aangeteken. Hy het ‘n driekuns aan drieë behaal, vier drieë verdoel en ook vier strafdoele oorgeklits.
Noord-Kaap het ‘n seldsame sege van 28-22 oor Marlow Landbou in Cradock behaal. Spanne behaal nie sommer maklik ‘n sege oor die Wolramme in Cradock nie. Vir die span van Kimberley het sy agtsteman, Gerhard Holtzhausen, en vleuel, Cameron Hufke, albei dubbelle driedruk-plesier ervaar.
In Virginia het Hentie Cilliers danksy ‘n skepdoel deur sy losskakel, Domenic Smit, ‘n merkwaardige sege van 27-26 oor Maritzburg-kollege behaal.
Vryburg het nog ‘n weghol-sege van 105-0 oor Wolmaransstad in die Pukke16-reeks behaal. Die span se senter, Joe van Huysteen, het vyf van sy span se 17 drieë afgerond. Die losskakel, BF van Staden, het ook weer die punte opgestapel. Sy bydrae van 35 punte het uit drie drieë en tien doelskoppe bestaan.




