SuperSport Schools Plus

Duineveld wil weer beste in Noord-Kaap wees

By Charne van der Merwe , in Netball | News , at 2024-03-04 Tags:

Abriëlle de Witt, Clarise Barnard, Carmi Liebenberg (kaptein), Carla Kuhn, Tersian Oberholzer, Zandri Brink, Zanelle Brink, Jeanne Coetzer, Yolanda de Kock, Stephanie Kruger.

Hoërskool Duineveld se netbalspan, ook bekend as die Chillies, het hul seisoen met klinkende oorwinnings geloods by Fichardtpark se sportdag in Bloemfontein.

Die span, gelei deur kaptein, Carmi Liebenberg, het hul vaardigheid op die baan tentoongestel om ‘n rits indrukwekkende oorwinnings te behaal.

Die Chillies het met ‘n telling van 35-18 teen Eunice High School geseëvier, en daarna hul segetog voortgesit deur Hoërskool Sentraal met 31-23 te verslaan en ‘n wegholoorwinning van 53-15 oor Landboudal te behaal.

Onder die bekwame oog van hoofafrigter Madré Steyn en hulpafrigter Riana Becker, het die span ambisieuse doelwitte gestel vir die seisoen wat voorlê.

“Ons eerste doelwit is om weer eerste in die provinsie te eindig en ons plek in die Nasionale Kampioenskappe te verseker,” sê Steyn.

Hulle beoog ook om op nasionale vlak onder die top-10 te eindig, waar hulle teen van die beste spanne in die land meeding.

Boonop is hul vasbeslote om hul titel te verdedig by die Interskole-kompetisie wat vir Augustus geskeduleer is.

Sover dit hul taaiste mededingers aangaan, erken die Chillies dat Hoërskool Upington hul vernaamste plaaslike teëstander is, terwyl Affies die grootste uitdaging bied op nasionale vlak.

Ten spyte van sulke gedugte kompetisie, bly die span gefokus op hul doelwitte en sal hulle nie vir enige uitdagings wat oor hul pad mag kom terugdeins nie.

Geoordeel aan hul prestasies van verlede seisoen, het die Chillies heelwat om op trots te wees. Om die Interskole-toernooi te wen was maar slegs die begin, met hul prestasies by die Nasionale Kampioenskappe, waar hulle 13de geëindig het, wat bewys dat hulle op die hoogste vlak kan meeding.

Die span se sukses by verskeie toernooie, insluitende ‘n tweede en derde plek by onderskeidelik Hoërskool Sentraal en Paarl Girls High se toernooie, verstewig hul reputasie as ‘n krag om mee rekening te hou in die netbalgemeenskap.

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.