Drieë ingeryg op halfeindronde-dag van Tuks-reeks
Menlopark het Saterdag op sy tuisveld in die Tuks-reeks vir HTS Middelburg met 46-37 verslaan. Die tuisspan het ‘n voorsprong van 43-18 opgebou voordat die Rooi Bulle met ‘n reuse terugvegpoging vorendag gekom het.
Die terugvegpoging was so goed dat Menlopark se skrumskakel, Bernard van der Linde, ‘n strafdoel laat in die wedstryd moes oorklits om seker te maak dat dit meer as twee verdoelde drieë sou verg om die sege van sy span weg te neem. Gepraat van Van der Linde, hy het sy skopstewels ingepak.
Wat die Rooi Bulle se terugvegpoging nog meer merkwaardig maak is die feit dat hulle dit met slegs 14 spelers op die veld gedoen het. Die plaasvervanger Tjaart Kruger is met die telling op 26-18 in met ‘n rooikaart van die veld gejaag.
Vir Menlopark het sy slot Justin Sadie, stut Barry Viljoen en agtsteman Divan Venter voorlangs goeie spel gelewer. Buiten Van der Linde het die senterpaar, Dylan Nysschen en Enrique Grobler ook goed vertoon.
Eldoraigne het Kempton Park met 41-23 die loef afgesteek na hy teen rustyd reeds ‘n gerieflike voorsprong van 31-18 opgebou het. Kempies se breiers, Oupa van der Merwe en Kwagga Loubser, sal nie gelukkig oor die nederlaag wees nie, maar sal wel tevrede wees met die feit dat hul span nooit gaan lê het nie.
Eldos se buitesenter, Riaan Burger, was ondanks die geelkaart wat hy ontvang het na hy ‘n speler in die lug gespeel het een van sy span se groot staatmakers in die kragmeting. Hy het met sy aggresiewe lakwerk ‘n hele paar van Kempies se spelers hard met moeder aarde laat kennis maak. Saam met sy sentermaat, Ruan Kotze, het hulle ook deurgans vra aan Kempies se verdediging gevra. Die vleuel Reynard van Biljon kan ook tevrede met sy vertoning voel.
Eldoraigne het oor die afgelope paar jaar gehalte vaskopstutte opgelewer. Charl Bester het Saterdag gewys dat hy graag vanjaar sy naam by die van Sarel-Marco Smit en Mornay Smith wil voeg wat die afgelope paar jaar die nasionale skolespanne verteenwoordig het. Bester sal egter sy werk uitgeknip hê om die Blou Bulle se Cravenweek-span te haal.
Kempies het in die skrums en lynstane gesukkel, maar in die vastelos het sy kaptein en flank, Leander du Plessis, agtsteman Xander Terblanche en die plaasvervanger-flank, John Anderson, vir Eldoraigne behoorlik besig gehou.
Die Hoërskool Rustenburg het Hoërskool Pietersburg met 56-12 gekarnuffel. Die Rusties het teen die omdraaislag met 21-12 voorgeloop. Die span se haker, Gustav van Staden, het ‘n indrukwekkende vertoning opgedis.
Van Staden het in die los gewoel en ook sy basiese take goed verrig. Die span se kaptein en agtsteman, André Fouché, sou ook ‘n sterk aanspraakmaker op die titel as Speler van die Wedstryd wees. Sy werksverrigting was ongelooflik en hy het heelwat meters met die bal onder die arm vasgeknyp vir sy span gewen.
Agterlangs was die skrumskakel, Llewellyn Lubbe, uitmuntend. Lubbe het later na vleuel geskuif en sy plaasvervanger agter die oond, Estiaan Heynecke, het die Pieties met sy vinnige voetwerk behoorlik om die losgemale laat bontstaan. Hy het ook gewys dat hy oor ‘n akkurate skopskoen beskik.
Rustenburg se flank Arno Strydom het ook die veld vol gespeel. Dan kan die naam van die heelagter, Nathan Fourie, nie uitgelaat word nie. Hy het elke keer wanneer hy ‘n teenaanval geloots het ‘n hele paar verdedigers na lug laat gryp.
Transvalia van Vanderbijlpark het net oor te veel skietgoed vir Florida Saterdag op Menlopark in die Tuks-reeks beskik. Of dalk het die goeie vertoning deur Florida teen Affies tydens die St John’s College Paastoernooi net te veel uit die span van Roodepoort geneenm.
Transvalia het oortuigend met 50-3 geseëvier. Florida se aanslag in die wedstryd is nie gehelp deur die feit dat sy vaskopstut, Juandré van der Merwe, ‘n rooikaart na ‘n vuishou in die eerste helfte ontvang het nie.
Florida moes boonop vir tien minute in die tweede helfte met slegs 13 spelers klaarkom na sy flank Brink Bosman koelkas toe gestuur is. Transvalia se vaskopstot, Morné Stander, is ook na ongeoorloofde spel in die eerste helfte met ‘n geelkaart van die veld gestuur.
Die wenspan se kaptein en slot, Elrich Louw, en sy slotmaat, Jacques Myburgh, het goeie wedstryde beleef. Myburgh is vir sy goeie spel met twee drieë beloon. Agterlangs het die losskakel, JP Pieterse, en vleuel, Mpho Ntsane, goed vertoon. Ntsane het wel twee geleenthede om te gaan druk verbrou, maar het ook twee keer wanneer Pieterse afgeskop het die bal voor Florida weggeraap.
Transvalia kon veel verder gewen het indien die span nie soveel hanteerfoute began het nie. Die plaasvervanger-losskakel, Zian de Jager, het ook met sy spel beïndruk toe hy sy verskyning op die veld gemaak het. Hy het ook ‘n baie mooi drie gedruk. Vir Florida was sy heelagter, Tino Swanepoel, gevaarlik op die aanval.
Monument van Krugersdorp is die enigste skool wat met ‘n span in elk van die vier A-liga eindstryde van die Tuks-reeks kan spog.
Puntemakers:
EG Jansen 69 (47) – Drieë: Dylan Schwartz (2), Ruben Beytell (2), Hugo Claassen (2), Carson Koekemoer, Dwayne Fourie, Ruan Kruger, Sheldon Rivabello. Doelskoppe: Schwartz (8). Strafdoel: Schwartz. Hoërskool Nelspruit 26 (14) – Drieë: Albie de Neysschen, Chris van der Merwe, Riehandré van der Merwe, Brandon Potgieter. Doelskoppe: Stephan van der Bank (3).
Monument 45 (24) – Drieë: Morné Brandon, Stephan le Roux, Larko Lindes, PJ Jacobs, Luke Rossouw, Tristan Dullisear. Doelskoppe: Jonathan Viljoen (5). Strafdoel: Viljoen. Garsfontein 21 (21) – Drieë: Ruben Roodt, Wesley Thompson, Keanu Prinsloo. Doelskoppe: Barry Schoombee (3).
Menlopark 46 (24) – Drieë: Dirk Thuynsma (2), Dylan Nysschen (2), Barry Viljoen, Arrie du Plessis. Doelskoppe: Bernard van der Linde (5). Strafdoele: Van der Linde (2). HTS Middelburg 37 (13) – Drieë: Brandon Pienaar, Ruvaan Muller, Bernard Janse van Rensburg, Dolf Rossouw, Armand Bester, Frans Mans. Doelskoppe: Morné Sonnekus (2). Strafdoel: Sonnekus.
Eldoraigne 41 (31) – Drieë: Reynard van Biljon (2), Ruan Kotze, Shayne Bolton, Franco van Wyk, Reynard Heymans, De Wet Pretorius. Doelskoppe: Riaan Burger (3). Kempton Park 23 (18) – Drieë: Hilton Gie, Leander du Plessis, Werner Schoeman. Doelskop: Mikhail Blake. Strafdoele: Blake (2).
Hoërskool Rustenburg 56 (21) – Drieë: Douw Scheepers, Gustav van Staden, Llewellyn Lubbe, Gideon Roodt, Estiaan Heynecke, Arno Strydom. Doelskoppe: Dwayne van Niekerk (3), Heynecke (5). Hoërskool Pietersburg 12 (12) – Drieë: Martin Austen, Kailan Ferreira. Doelskop: Austen.
Transvalia 50 (15) – Drieë: Jacques Myburgh (2), Elrich Louw, Reinard Marx, Ian Herbst, Keanu Bosch, Zian de Jager. Doelskoppe: JP Pieterse (6). Strafdoel: Pieterse. Florida 3 (3) – Strafdoel: Tino Swanepoel.
Ander uitslae:
o.16: Monument 17, Transvalia 12; Menlopark 29, Klerksdorp 12; Garsfontein 36, Pietersburg 25; EG Jansen 41, HTS Middelburg 7; Rustenburg 26, Eldoraigne 7; Kempton Park 22, Florida 12.
o.15: Monument 19, EG Jansen 12; Transvalia 27, Eldoraigne 5; Menlopark 61, Nelspruit 5; Rustenburg 26, Florida 5; Garsfontein 20, HTS Middelburg 15; Kempton Park 15, Klerksdorp 10.
o.14: Monument 27, Rustenburg 7; Menlopark 71, Pietersburg 7; Transvalia 7, Nelspruit 3; EG Jansen 17, Florida 0; Garsfontein 38, Klerksdorp 17; HTS Middelburg 13, Kempton Park 7.




