SuperSport Schools Plus

Dreyer neem Kovsie Smash weer op horings met die kolf

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-08 Tags: , , , , , , , , ,

Cricket bat and helmet on field during sunny dayEduard Dreyer het sy aanslag op die titel as voorste lopiemaker by vanjaar se Kovsie Smash-toernooi versterk met nóg ‘n uitsonderlike beurt teen Hoërskool Trio tydens die derde oggendsessie.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschool.com)

Hoërskool Wesvalia is steeds onoorwonne na drie wedstryde, nadat hy Hoërskool Trio gemaklik met 77 lopies verslaan het. Dreyer het die hoogste telling tot dusver by vanjaar se toernooi behaal.

Verlede jaar se speler van die toernooi het slegs 66 aflewerings benodig om sy weg tot by 87 lopies te moker, wat sy totaal in drie wedstryde na ‘n indrukwekkende 182 geneem het. Sy beurt het 12 grenshoue, waarvan 11 viere en een ‘n ses was, ingesluit.

Zander Stopford (47) het het hom by Dreyer bo aan die kolflys aangesluit en gesamentlik het hulle die Trio-boulers laat swoeg vir die eerste deurbraak en ‘n vennootskap van 148 lopies opgestel om vir die Wessies ‘n bevredigende totaal van 154/3 in die toegelate 20 beurte daar te stel.

Aanvangsboulers, Johanco Nel (5/23) en Quwen Fourie (4/11), het daarna nie op hulle laat wag nie en met hul gesamentlike nege paaltjies Trio vir ‘n skamele 77 met die stert tussen die bene huistoe gestuur.

Bethlehem Voortrekker se Joel Coetzee (58) en JD van Dyk (25*) het albei uitstekend gekolf om die span van die Oos-Vrystaat tot 133/4 in hul toegelate 20 beurte teen Overvaal te neem. Jayden Strydom het die duo se vertoning met die kolf uitmuntend opgevolg deur vier paaltjies vir slegs agt lopies op te raap.

Ruan Heunis (3/25) het Strydom puik ondersteun en slegs Christiaan Schoeman (25) kon enige hond haaraf maak teen dié boulaanval. Die res van Trio se kolwers het een na die ander teruggekeer pawiljoen toe met die laaste paaltjie wat op 91 gekantel het.

Hoërskool Rustenburg se kaptein Thian Labuschagne (3/7) het van voor gelei met die bal om ‘n naelskraapse sege met 18 lopies oor Duineveld te beklink. Die Rusties moes inderdaad ‘n haas uit die hoed ruk nadat die Velties se Niekie Smith die toporde met syfers van 5/14 vermorsel het. Met slegs 73 lopies om te verdedig het Labuschagne en Henry Kemp (2/15) egter hand opgesteek om die span van die Noord-Kaap vir 55 uit te haal.

Die gasheer, Hoërskool Fichardtpark, is steeds onoowonne na ‘n vierde agtereenvolgende sege, teen Oos-Moot. Dit was te danke aan ‘n uitstaande vertoning deur ál die boulers. Gelei deur kaptein, Stian Kruger (1/11), was die druk vierkantig op die Pretorianers, en het die Fichies, wat skerp was in die veld, twee van die Oosies se kolwers ook uitgehardloop.

Marno Smith (34) het die wilgerlat met mening geswaai, nadat die Oosies se Danie Corbett (3/23) vroeë skade aangerig het, om die tuisspan uiteindelik met vyf paaltjies oor die wenstreep te kry.

Beknopte telkaarte:

Wesvalia 154/3 (Eduard Dreyer 87, Zander Stopford 47; Myburg Jacobs 2/22); Trio 77 (Gabriel Mocjabela 39; Johanco Nel 5/23, Quwen Fourie 4/11). Wesvalia wen met 77 lopies.

Bethlehem Voorstrekker 133/4 (Joel Coetzee 58, JD van Dyk 25*, Ruan Heunis 21; Zander Olivier 2/24); Overvaal 91 (Christiaan Schoeman 25; Jayden Strydom 4/8, Ruan Heunis 3/25). Bethlehem Voortrekker wen met 42 lopies.

Hoërskool Rustenburg 73 (Keanu Janse van Rensburg 27; Niekie Smit 5/14, Xander O’Connell 3/13, Pieter Coetzee 2/4); Duineveld 55 (Extras 14; Thian Labuschagne 3/7, Henry Kemp 2/15). Hoërskool Rustenburg wen met 18 lopies.

Oos-Moot 105/7 (Daniel Roux 27, Henco Erasmus 26*; Stian Kruger 1/11); Fichardtpark 106/5 (Marno Smith 34, Aaron Isaacs 22; Danie Corbett 3/23). Fichardtpark wen met vyf paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.