DP en Daniel bestes op Oakdale Rugbyweek
SEWE spelers uit die sentrale streek was die beste in hulle posisie tydens die jaarlikse rugbyweek wat deur Oakdale Landbou net buite Riversdal aangebied word. Hoërskool Sentraal van Bloemfontein se losskakel, DP de Lange was boonop as die beste agterspeler tydens die week aangewys.
Hoewel die Tralies in die hoofwedstryd van die week teen die gasheer 3-12 die knie gebuig het, het die span van die Rosestad met vier spelers die grootste verteenwoordiging in die span. Hoewel dié gekose span nie speel nie en slegs as erkenning dien is dit steeds ‘n reuse eer. Die Springbok Meyer Bosman en Marius Delport het ook al die span gehaal.
“Dit dien as aanmoediging vir my. Dit is ook lekker om te weet die keurders van die span het jou raakgesien,” het De Lange gesê. Die ander vier Tralies in die span is die heelagter SJ Fourie, die slot SJ Wessels en stut Lafras Bekker. Voortrekker van Bethlehem se senter Boeta Vermaak en haker Christo van Zyl het ook die span gehaal. Die sewende lid van die streek is Hoërskool Upington se slot, Kobus Wiese. Hy is die broer van Jasper Wiese wat verlede jaar vir Griekwas-platteland op die Cravenweek uitgedraf het.
Oakdale Landbou se agtsteman, Daniël Maree is vir sy spel as voorspeler van die week aangewys. Die gasheer se senter JT Jackson en vleuel JP Coetzee het ook die span gehaal.
De Lange beleef sover ‘n goeie seisoen en sal die opwaartse kurwe in sy spel moet handhaaf indien hy die Vrystaatse nommer tien trui syne vir die 51ste Cravenweek-toernooi vir hoërskole in Middelburg wil maak. “Ek dink het is so op 60 persent van waar ek my spelpeil graag wil hê teen die tyd van die proewe vir die Cravenweek. Ek wil graag die Vrystaat se losskakel op die Cravenweek wees en as ek daar kom my bes gee om ook in aanmerking vir ‘n plek in die SA Skole-span te kom,” het De Lange gesê.
Die span wat na afloop van die week gekies is, is:
SJ Fourie (Sentraal), Nthokozisi (HTS Ligbron), Boeta Vermaak (Voortrekker), JT Jackson (Oakdale Landbou), JP Coetzee (Oakdale Landbou), DP de Lange (Sentraal), Wikus Badenhorst (HTS Ligbron), Daniël Maree (Oakdale Landbou), Stefan Janse van Vuuren (Brandwag), Juanré van der Walt (Kemptonpark), Kobus Wiese (Hoërskool Upington), SJ Wessels (Sentraal), Lafras Bekker (Sentraal), Christo van Zyl (Voortrekker), Kabous Voges (Brackenfell).