Dit Garsies of Jansies in Beeldtrofee vir Makroskole
Indien Dr. EG Jansen van Boksburg vandag in die eindstryd van die Virseker Beeldtrofee vir Makroskole (o.19) daarin slaag om die Hoërskool Garsfontein te weerhou om sy titel te verdedig sal dit ’n geval van derde keer is skeepsreg wees.
Die Jansies het vanjaar al twee keer met die Bere van Garsfontein afgereken. Albei kere was tydens die Tuks-reeks (o.18) waarin EG Jansen die opwindende tweestryde met onderskeidelik 40-33 en 39-26 gewen het. Die eindstryd vandag op Berepark in die Jakarandastad beloof dus om ’n skouspel te wees.
Garsfontein het Dinsdag sy plek in die eindstryd vir ’n derde agtereenvolgende jaar met ’n indrukwekkende sege van 35-20 oor Monument bespreek. Die span het ’n duur prys vir dié sege behaal omdat hy nou sonder sy general, Austin Davids, moet speel. Die losskakel het ’n rooikoort vir ’n kopstamp gekry en is vir ’n week geskors.
Garsfontein en Davids het appel teen die skorsing aangeteken na die speler wat hy glo na bewering met die kop geslaan het, Reyno Potgieter, in ’n boodskap gesê het dat dit nie die geval was nie. Die tugkomitee van die Blou Bulle se Skolevereniging kon op videomateriaal geen bewyse van die oortreding sien nie, maar het ook beslis dat hy ook nie kan sien op die beeldmateriaal dat dit wel nie die geval was nie.
Die Blou Bulle se plaasvervanger-skrumskakel tydens die Cravenweek, Calderon Levens, sal Davids se toks in die eindstryd moet volstaan. Levens was wel in die Tuks-reeks saam met die manjifieke Embrose Papier Garsies se tweedespan se skakelpaar. Papier het in 2014 en 2015 die nasionale skolespan verteenwoordig en het vanjaar die Jong Bokkies (o.20) in die Wêreldkampioenskap verteenwoordig.
Garsies se twee SA Skole-spelers, Emillio Adonis en PJ Steenkamp, is wel weer terug na beserings. Steenkamp sal ook die span vanaf slot aanvoer. Hy het laas vir die Turkoois Bere tydens die Wildeklawer-toernooi teen Grey-kollege gespeel.
Jansies se losskakel, Ruben Beytell, sal fyn deur die tuisspan dopgehou moet word. Beytell het vanjaar al 28 keer die doellyn vir sy skoolspan oorgesteek. Sy skakelmaat en onderkaptein van die span, Ginter Smuts, het vanjaar al 211 punte opgestapel. Hy het ook tien keer die doellyn oorgesteek.
As Garsies se agttal met sy hardebaarde soos die haker Bees Ferreira, stut Hendré Eloff, agtsteman Luke Fortuin en flank Ryno Pieterse hul span op voorvoet kan kry behoort Garsies se titel te behou. Jansies sal hoop dat sy skakelpaar genoeg beweegruimte deur Garsies se verdediging gegun word sodat hul die spel kan dikteer. Die besoekers het in sy buitesenter, Lee-Irvin Anderies, ’n uitstekende aanvallende speler.
Die spanne is:
Garsfontein: Shaun Williams, Emelio Adonis, Abner van Reenen, Wesley Thompson, Henk de Leeuw, Calderon Levens, Embrose Papier, Luke Fortuin, Ryno Pieterse, Stephan Smit, PJ Steenkamp (k), Jordan van Dyk, CJ Steinhöbel, Bees Ferreira, Hendré Eloff. PLAASVERVANGERS: Dristen Bezuidenhout, Adriaan Pretorius, Keanu Prinsloo, Wickus Opperman, Carl du Plessis, Divan de Clerk, Tiaan Thysse, Bjorgan Hendricks.
EG Jansen: Franco van Eeden, Quinton Beaton, Lee-Irven Anderies, Henry Pike, Dwayne Fourie, Ruben Beytell, Ginter Smuts, André Meyer, Dylan Engelbrecht, Ruben Roodt, Francois du Preez, Dominic McArthur, André van der Merwe, Werner Fourie (k), Rehann Baumann. PLAASVERVANGERS: Werner Landman, Janus Venter, Johan Botes, Reinhard Venter, Ruann Kruger, Keenan Oelofse, Dylan Jordaan, Franklin Wagner, Carsen Koekemoer, Laurandt Pepler.
Skeidsregter: Gerrie de Bruin.




