Diamonds behaal sege oor Velties in Upington
Diamantveld gaan nie sommer vanjaar in die sentrale streek geklop word nie.
Dit is nooit maklik vir enige span om ’n sege in Upington oor Duineveld of Hoërskool Upington te behaal nie. Daarom het die span van Kimberley uitstekend gevaar om die Velties met 22-15 te troef. Die feit dat Duineveld vanjaar oor ’n gedugte span beskik maak die sege nog meer merkwaardig.
Boonop moet Diamonds vir ongeveer 30 minute met slegs 14 spelers klaarkom na sy senter Etdeon Greyvenstein met ’n rooikaart van die veld gejaag is.
Sy sentermaat, De-An Ackermann, het ’n beter dag beleef. Ackermann was een van sy span se staatmakers en het ook ’n mooi onderskepdrie gedruk. Hy het bykans 60 meter met die bal vir sy drie genael.
Duineveld se agttal het die besoekers probleme besorg. Veral Diamonds se lostrio Jacques Ackermann, Jan-Willem van Niekerk en Renier van Zyl het goeie werk gedoen om die Velties voorlangs in toom te hou.
Velties se slot Rudolph Oberholster en senter Sebastiaan Jobb het uitmuntend vir die verloorspan vertoon.
Dit was ’n goeie toets vir Diamonds se karakter as span voor hulle Saterdag teen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria in die Jakarandastad op die veld moet draf.
Noord-Kaap het op Lanboupark in Jacobsdal benoude oomblikke in die tweede helfte van sy sege van 28-19 oor Landboudal beleef. Northerns het met rustyd reeds ’n stewige voorsprong van 21-0 opgebou.
Northerns het agterlangs te veel vaart vir Lanties gehad. Landboudal se flank Willem Scholtz was uitstaande vir sy span. Hy het twee keer die doellyn oorgesteek.
“Dit was ’n spanpoging in die tweede helfte om so terug te kom in die wedstryd en elkeen het werklik sy kant gebring,” het Schalk van der Merwe, afrigter van Lanties, gesê.
Die Kalahari Leeus se heelagter, Mpho Moloawa, was met ’n driekuns aan die voorpunt van sy span se sege van 34-5 oor Hartswater. De Aar het met 7-15 teen Aliwal-Noord vasgeval, terwyl Kathu vir Vaalharts met 45-7 kafgedraf het.
Puntemakers:
Diamantveld 22 (15): Drieë: Allan Joubert, De-An Ackermann, Jan-Willem van Niekerk. Doelskoppe: Charles Williams (2). Strafdoel: Williams. Duineveld 15 (5): Drieë: Zian Augustyn, Rudolph Oberholster. Doelskop: Adri du Plessis. Strafdoel: Du Plessis.
Noord-Kaap 28 (21): Drieë: Rian Kotze (2), Cameron Hufke, Byron Qupa. Doelskoppe: Hufke (4). Landboudal 19 (0): Drieë: Willem Scholtz (2), Tiaan van Wyk. Doelskoppe: Henco Burger (2).
Kalahari 34: Drieë: Mpho Moloawa (3), Wian Diergaardt (2), Nico Erasmus. Doelskoppe: Johnny Hollenbach (2). Hartswater 5.
Kathu 45: Drieë: Robert Wessels (2), Samuel Mussasa (2), Darren Titus, Marco van Niekerk. Doelskoppe: Arno Meyer (5). Vaalharts 7.
De Aar 7: Drie: Strafdrie. Doelskop: Azi Afrika. Aliwal-Noord 15.




