Diamonds behaal rekordsege in Kimberley-derby
Diamantveld het Saterdag die bordjies op dramatiese wyse verhang teen Hoërskool Noord-Kaap, deur met ‘n rekordtelling van 71-7 die spogregte in Kimberley te herwin.
Dié reuse oorwinning het weereens benadruk hóéveel vordering Diamantveld reeds hierdie seisoen gemaak het. Hulle het verlede jaar die Kimberley-derby op Pirates met 17-18 verloor.
Die Diamonds het 11 drieë teen hul buurskool ingeryg, tot die absolute genot van hul ondersteuners, om hul grootste sege nóg in die FNB Classic Clashes-kragmeting te behaal.
Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Die besoekers het nietemin goed gevaar om Diamantveld se verdediging vroeg in die wedstryd onder druk te plaas, maar die tuisspan se haastige buitesenter, Clinton Brits, het kort voor lank sy ore platgetrek om die eerste bres in die verdediging te slaan, en daarna het die damwal gebars.
Ethan Manus, Jonathan Harding, Jayden de Klerk, Daniël Kühn en Simon Liversage het ook agter die doellyn gaan draai om die telling teen halftyd reeds op 45-0 te staan te bring. Kühn, verál, sal sy drie nog lank onthou, want dit is nie elke dag dat ‘n slot die kans kry om te nael vir die hoekie nie, terwyl Harding twee keer gaan druk het.
Na die omdraaislag het Carel Viljoen, Kyle Taute, Charl Swanepoel en De Wet du Plooy verdere spykers in die Northerns se kis gemoker.
Hoewel dit moeilik is in só ‘n vertoning om individue uit te sonder, het Liversage en losskakel, Marno Greeff, nietemin uitgetroon in die ligbloutrui met die kundige wyse waarop hulle die totale aanslag gedirigeer het.
Die Northerns het steeds karakter getoon en nooit gaan lê nie. Hul lewendige klein skrumskakel, Lwandle Maseko, het in die 66ste minuut oorgeduik vir sy span se enigste drie, maar teen daardie tyd was die kanonkoeël lankal reeds deur die kerk.
Volgende naweek sit die Diamantveld-span hul onoorwonne veldtog in die Wesgrow Sentrale-sportreeks voort in Bloemfontein, waar hulle vir Hoërskool Sentraal die stryd aansê. Die Tralies ervaar ‘n strawwe seisoen tot dusver, maar die Kimberley-manne kan nie bekostig om nou op hul louere rus nie en sal hul droomseisoen met mening wil afrond.
Puntemakers
Diamantveld 71 (45) – Drieë: Jonathan Harding (2), De Wet du Plooy, Daniël Kühn, Jayden de Klerk, Ethan Manus, Simon Liversage, Clinton Brits, Carel Viljoen, Kyle Taute, Charl Swanepoel. Doelskoppe: Liversage (5), Marno Greeff (3). Hoërskool Noord-Kaap 7 (0) – Drie: Lwandle Maseko. Doelskop: Themba Koopman.
Al die tellings:
o.19 – Diamantveld II 27, Noord-Kaap II 12; Diamantveld III 19, Noord-Kaap III 7.
o.16 – Diamantveld A 33, Noord-Kaap A 10.
o.15 – Diamantveld A 15, Noord-Kaap A 14.
o.14 – Diamantveld A 78, Noord-Kaap A 7.