SuperSport Schools Plus

Diamantveld verbreek sewe jaar se wendroogte

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-08-11

Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley het Saterdag op sy tuisveld ’n droogte van sewe jaar teen die Hoërskool Noord-Kaap verbreek.

En was die lafenis van die sege van 24-12 nie lekker vir die span van Diamonds nie. Dié span het vir 60 minute van die kragmeting die soort rugby gespeel wat indien hulle dit kan herhaal, hulle nie maklik in die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) gestuit gaan word nie. Volksblad is ’n medeborg van die kompetisie.

Diamantveld kon laas in 2007 daarin slaag om Noord-Kaap te troef en was op daardie dag met 25-0 baas. Die wenspan het Saterdag by die afbreekpunte met Janco Cloete aan die spits die oorhand gehad.

Northerns se agterhoede se swak balverspreiding het die span die meeste in die steek gelaat.

Diamonds se ster was sonder twyfel sy losskakel, Gerco Nortjé, wat met sy taktiese skopwerk, balverspreiding en uitmuntende besluitneming vir Noord-Kaap probleme besorg het.

Die span se kaptein, Nardus Bosman, het sy span met voorbeeld gelei. Diamonds se verdediging was rotsvas.

Vir Noord-Kaap het sy twee slotte, Rikus Swarts en Bradley Leijdekkers, in die vastelos en in die lynstane goeie spel gelewer. Northerns se Geo Davel het vroeg in die wedstryd tien minute in die koelkas deurgebring na hy deur die skeidsregter Lourens van der Merwe ’n geelkaart toegeken is.

Diamantveld sal nou teen die kampioen van die Vrystaatse A1-liga in die halfeindstryd van die Shimla-liga te staan kom. Northerns sal teen die Griffons se kampioen te staan kom.

) Grey-kollege het Dinsdag en Donderdag vir onderskeidelik Jim Fouché (59-7) en Sand du Plessis (66-13) kafgedraf. Albei wedstryde is vroeg gestop.

Teen Jim Fouché het die heelagter, Henry Immelman, ’n driekuns aan drieë behaal. Hy het die week 37 punte in dié twee kragmetings aangeteken. Hy het 20 punte tot die sege oor Sannies bygedra.

Teen Sannies het die vleuel, Glenn Erickson drie keer agter die doellyn gaan kuier.

Louis Botha het met ’n sege van 33-26 oor die Cherries dit duidelik gemaak dat hy vanjaar die voorste span in die Vrystaatse A1-liga is.

Die Cherries se heelagter, Christiaan Troskie, het 21 van sy span se punte in die wedstryd aangeteken. hy het ’n drie gaan druk, met albei doelskoppe geslaag en ook drie strafdoele tussen deur die pale gejaag.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.