Diamantveld se eerste netbalspan stel visier hoog
Hoërskool Diamantveld (DHS) het met trots sy eerste netbalspan vir die komende seisoen bekendgestel en, onder leiding van die ervare afrigter, Bethenie du Raan, is die span slaggereed vir groot sukses.
Die spanlys bied met ‘n mengsel van talent, met vyf matriekleerlinge, vier graad 11-leerders en een belowende graad 10-speler.
Aan die voorpunt van die span staan Mari du Raan, wat die rol van doel sal vervul. Neffens haar is Johandri de Wet op hulpdoel, terwyl Izeldi Jacobs veelsydigheid bied as hulpdoel en aanvallende vleuel, en Valmari Faber haar vaardighede na vore bring as ‘n aanvallende vleuel of senter.
Carmen Louw is op senter en Lara van Niekerk op verdedigende vleuel en hulpdoelverdediger.
Klarissa Taljaard bring verdere diepte aan die verdediging as hulpdoelverdediger en verdedigende vleuel, terwyl Brithe Honiball en Zandri Starke hul verdedigingsvaardighede sal uitstal as onderskeidelik verdediger en verdedigende vleuel.
Timney Greyling bied ‘n talentvolle opsie wat betref sowel aanvallende as verdedigende vleuel.
Onder die uitblinkers in die span tel du Raan, wie se uitsonderlike talent haar ‘n gesogte plek in die 2025 Wêreldbeker o. 19-span besorg het. Starke was onder die top-35 o. 16-spelers by die All Ages-toernooi in Boksburg in 2023, terwyl Louw haar merk gemaak het as een van die top-35 o. 17-spelers by die Telkom Nasionale Kampioenskappe in Kaapstad in 2023.
Met die doel om hulself hierdie seisoen as die top-netbalspan in die Noord-Kaap te vestig, streef die span ook na ‘n top-10-plasing op die nasionale ranglys.
Met Hoërkskool Menlopark se jaarlikse toernooi en die Absa Wildeklawer-sporttoernooi wat op hulle wag, maak die span gereed om strawwe kompetisie vanjaar die hoof te bied.
Afrigter du Raan prys haar span se toewyding, gees en sportmanskap, en beskryf hulle as ‘n goed gebalanseerde span. Met die ondersteuning van spanbestuurder, Magda Myburgh, en konsultant, Lanie Steenkamp, is die eerste span gereed om hul merk in die wêreld van netbal af te druk.