Diamantveld-netbalspanne seëvier oor Noord-Kaap op tuisveld
In ‘n opwindende kragmeting tussen Hoërskool Diamantveld en Hoërskool Noord-Kaap het Diamonds weereens as die oorwinnaars uit die stryd getree by hierdie jaar se FNB Classic Clashes.
Die geleentheid was ‘n hoogs verwagte een, met ondersteuners van albei spanne wat gretig gewag het vir die uitslae.
Vir die vyfde agtereenvolgende jaar het Diamantveld se eerste netbalspan met ‘n telling van 33-28 onoorwonne gebly.
Dit was egter nie net die eerstes wat hul staal gewys het nie, Diamantveld spog met ‘n vier uit vier vir die dag nadat hul o.14, o.15 en o.16-netbalspanne stof in Noord-Kaap se oë geskop het.
Diamantveld het merkwaardige vaardigheid en spanwerk getoon en die wedstryd van begin tot einde oorheers.
Die spelers het hul bekwaamheid in alle aspekte van die spel getoon, van hul aangee en doel tot hul verdediging en ratsheid.
Noord-Kaapse wat hard terug baklei het, kon nie Diamantveld se vaardigheid en vasberadenheid ewenaar nie.
Lara van Niekerk, hulpverdediger van Diamantveld en ook speler van die wedstryd, het baie goeie druk op haar opponente toegepas en sy en haar verdediger, Alexa Cox, was uitstekend in die doelsirkel.
Mari du Raan, die wenspan se doel, was skitterend met die bal en dodelik in die doelsirkel. Sy het slegs drie doele gemis en gesorg dat die res van die doele sink.
Die senterbaan het ook hul kant gebring met die kaptein, Anliné Brunette, wat goeie druk toegepas het en gesorg het dat die verdedigers die balle kon onderskep.
Uitslae vir die dag:
o.19A – Diamantveld 33, 28 Noord-Kaap
o.16A -Diamantveld 26, 10 Noord-Kaap
o.15A – Diamantveld 44, 4 Noord-Kaap
o.14A -Diamantvel 18, 9 Noord-Kaap