Diamantveld hou Grey tot ‘n gelykop-uitslag
Hoërskool Diamantveld se eerste rugbyspan van 2015 het Saterdag die eerste tree gegee om homself as een van die voorste spanne in dié skool se geskiedenis te vestig. Die pad vorentoe is egter nog lank.
Diamonds het 34-elk gelykop teen die land se voorste rugbyskool, Grey-kollege, op sy tuisveld in Kimberley op sy jaarlikse sportdag gespeel. Die skool van die Diamantstad vier vanjaar sy 80ste bestaansjaar.
Die terugveg-poging sal onthou word as een van die heel bestes nog op skolevlak in die sentrale streek. Grey het na slegs 13 minute se speeltyd reeds ‘n voorsprong van 22-0 opgebou. Diamantveld se hoofafrigter, Jean Stemmet, het geskerts dat hy teen dié stadium van die kragmeting wou weghardloop. “Die spelers het uitsonderlike karakter gewys om terug te kom na ons so ver agter was om uiteindelik gelykop te speel. Ek is baie trots op my span. Ek moet ook dankie sê vir Grey wat hier met ons feesvieringe teen ons kom speel het,” het Stemmet gesê.
Dit was die eerste keer wat die twee spanne sedert 1980 mekaar op die rugbyveld die stryd aangesê het. Die span van die Rosestad kon vir die eerste keer sedert 1979 nie daarin slaag om ‘n span van Kimberley te klop nie
HTS Kimberley het in 1979 vir Grey met 11-9 onder die aanvoering van Eddie Lightfoot geklop. Diamonds se losskakel, Gerco Nortjé, was uitstaande en het 19 van sy span se punte aangeteken. Hy het ook dié drie gedruk en ook verdoel ‘n minuut voor die einde wat die telling gelykop gemaak het.
Die kaptein en flank, Janco Cloete, het voorlangs sy span aangevuur. Die senter, Nico Roets, en agtsteman, Johan Joubert, het ook blink vertonings gelewer. Diamantveld het wel vroeër met 24-22 teen Sentraal vasgeval, maar Nortjé en nog ‘n paar van Diamonds se sterre was nie in die wedstryd in aksie nie. Vir Grey was sy vleuel Dawid Snyman en agtsteman, Werner Roberts, die vernaamste staatmakers.
Die Cherries het Duineveld se eerste span met 38-5 verslaan, terwyl ‘n Grey XV-tal vir Landboudal van Jacobsdal met 29-9 die loef afgesteek het. Welkom Gimnasium moes hard werk om Hoërskool Upington met 13-0 op die sportdag onder te kry.
Op Hartswater se sportdag was Kalahari se Leeus met 15-9 oor die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland van Jan Kempdorp baas. Kathu het op dié sportdag vir Zeerust met 19-12 geklop.
Puntemakers:
Grey-kollege 34 (22) – Drieë: Niel Durow, Johan Dippenaar, Dawid Snyman, PR Serfontein, Dian Gouws. Doelskoppe: Mario Veira (3). Strafdoel: Veira. Diamantveld 34 (7) – Nico Roets, Johan Joubert, Janco Cloete, Gerco Nortjé. Doelskoppe: Gerco Nortjé (4). Strafdoele: Nortjé (2).
Cherries 38 – Drieë: Jaco Wessels (2), Marnus Boshoff, Wian Kloppers, AJ Barkhuizen, JD Steyn. Doelskoppe: Barkhuizen (4). Duineveld 5.
Welkom Gimnasium 13 – Drieë: Benji Muller, Jason Olivier. Strafdoel: Luan James. Hoërskool Upington 0.
Grey XV-tal 29. Landboudal 9 – Strafdoele: Tiaan van Wyk (3).




