DHS trek sokkies op vir plek in DStv Challenge
Hoërskool Diamantveld (DHS) het ‘n eerste plek in die Kimberley-netballiga en ‘n algehele tweede plek in die Noord-Kaap behaal, wat aan hulle vanjaar ‘n plek in die DStv Schools Netball Challenge besorg het.
Nadat hulle dié uitdaging in 2023 misgeloop het, het die span merkwaardige verbetering en vasberadenheid getoon om vanjaar te kwalifiseer.
Een van hul grootste hoogtepunte hierdie seisoen was die sege oor Sentraal by die Absa Wildeklawer-sporttoernooi. Hierdie oorwinning het hul ambisie aangevuur om onder die top-10 by die DStv Challenge te eindig, meen Bethenie du Raan, afrigter van DHS, en hulle is uiters opgewonde oor die kompetisie wat voorlê.
Hulle kom Vrydag om 10:10 te staan teen een van hul gedugste teenstanders, Paarl Girls High. DHS het ook wedstryde teen Hoërskool Pietersburg, Bulelani en Sikhululu.
Die span spog met uitblinker, Mari du Raan, wat vir die o.18 en o.19 SA-oefengroepe gekies is.
Hoërskool Diamantveld: Mari du Raan, Johandri de Wet, Izeldi Jacobs, Timney Greyling, Carmen Louw (kaptein), Elé Kruis, Lara van Niekerk, Klarissa Taljaard, Brithe Horniball, Zandri Starke.
Lanie Steenkamp (konsultant), Tuané Meyer (spanbestuurder).