De Villiers-dubbel dryf Wilgerivier tot oorwinning

Die Sandveldliga het die afgelope naweek weer ‘n rugby-skouspel opgedis, met Wilgerivier wat ‘n indrukwekkende tuisoorwinning van 26-12 oor Hoopstad behaal het.
Die Wilgies het die eerste slag geslaan, toe hul pak voorspelers belowende besit van Hoopstad omgekeer het vir HG Muller om te druk.
Die Frankfort-span se groot haker, Louis de Villiers, het daarna twee keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier, met sy tweekuns wat basies die sege beklink het.
Uitstekende tussenspel deur die Hopies se agterspelers het nietemin kort voor halftyd hul staatmaker op buitesenter, Hennie Barnard, in staat gestel om hul rekening oop te maak en die agterstand na 7-19 te laat krimp.
Die tweede helfte het ‘n fisiese stryd afgegee, maar die kragmeting het gesukkel om sy ritme te herwin met albei spanne wat ‘n paar gulde geleenthede deur hul vingers laat glip het.
Die tuisspan kon derhalwe slegs een keer punte aanteken na die omdraaislag, met De Villiers se tweede drie.
‘n Intelligente steekskoppie deur Barnard en die groot spoed van vleuel, Busi Mfebe, het die gaping egter weer na 14 laat krimp, maar daar was eenvoudig nie genoeg tyd oor om in te haal nie.
Wilgerivier se slot, Ewert Kleynhans, het die geeltrui met trots verteenwoordig en is aangewys as die Speler van die Wedstryd.
Volgende Saterdag pak die Wilgies vir ‘n gevaarlike Henneman-span, wat die naweek 54 punte sonder antwoord teen HTS Welkom aangeteken het. Henneman se heelagter, Siya Khaba, het amok gesaai en ‘n driekuns tot sy naam gevoeg.
Intussen het Wessel Maree ook hul belowende begin aan die seisoen voortgesit met ‘n stewige vertoning teen Bultfontein. Thato Lebitso het twee keer gaan druk vir sy span om die Bulties met 27-5 af te stof.
Puntemakers:
Wilgerivier 26 (19) – Drieë: Louis de Villiers (2), HG Muller, Paseka Motsoeneng. Doelskoppe: Wian Muller (3). Hoopstad 12 (7) – Drieë: Hennie Barnard, Busi Mfebe. Doelskop: Mfebe.
Wessel Maree 27 – Drieë: Thato Lebitso (2), Kabelo Oliphant, Kagiso Plaajie. Doelskop: Junior Moroke (2). Strafdoel: Ntute Tsotsotso. Bultfontein 5.
Henneman 54 – Drieë: Siya Khaba (3), Thabiso Leeu (2), Sam Dlamini, Tjaart Gravett. Doelskoppe: Travis van Wyk (6). Strafdoel: Van Wyk. HTS Welkom 0.
Riebeeckstad 14 – Drieë: Nhalanhla Lushaba, Pule Dunjane. Doelskoppe: Miguel Maasdorp (2). Bothaville 22.
Ander tellings:
o. 19 – Winburg 1ste XV 22, St Anne’s Technical 1ste XV 10; Wessel Maree II 58, Bultofntein II 0.
o. 16 – Wilgerivier 14, Hoopstad 8; Bultfontein 17, Wessel Maree 5.
o. 15 – Wilgerivier 54, Hoopstad 0; Bultfontein 31, Wessel Maree 17.