De Lange was netjieste speler op eerste Cravenweek
DIT is heel gepas dat die 50ste Cravenweek vir hoërskole van Maandag af in Polokwane voorheen Pietersburg aangebied word. Vyftig jaar gelede is ‘n seun van die omgewing, Koos de Lange na afloop van dié eerste toernooi in Oos-Londen as die netjieste speler op die toernooi aangewys.
De Lange het slot vir Noord-Transvaal in die geskiedkundige toernooi gespeel.
De Lange was ‘n leerling aan die Hoër Landbouskool Kuscke net buite Polokwane. Hy het met geleende tokse vir sy skool se eerste span uitgedraf en was heel verbaas om sy pa Adriaan en ma Sannie by die proefwedstryd te sien. “Hulle het vir my nuwe tokse gegee en ek het toe in die proewe vir die eerste keer met my eie tokse gespeel. Ons het nog met die trein van Pretoria stasie af na Oos-Londen vir die toernooi gereis. Ons het saam met Rhodesië (deesdae Zimbabwe) in Selborne-kollege se koshuis gebly,” onthou De Lange oor die eerste Cravenweek.
De Lange het na elke wedstryd sy tokse met politoer gepoets en ook sy veters en broek daagliks gewas. Hy het ook met geleende netjiese klere na Oos-Londen gegaan en het dié ook met sorg hanteer. Dié toekenning het hy ‘n hele ruk na dié toernooi ontvang. “Ons skoolhoof het in die saal gesê dat hy goeie terugvoer van die destydse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skole-vereniging Jan Preuyt ontvang het. Dis toe dat ek die toekenning met Preuyt se handtekening in ontvangs geneem het,” vertel De Lange.
Vir die mense wat dink talentwerwers is ‘n ding wat eers in die beroepsera begin kop uitsteek het, het De Lange ‘n staaltjie wat die teendeel bewys. “Ons het almal na die toernooi as afskeid gebraai en Dok Craven het sy visitekaartjie in my hand gesteek en gevra wat ek volgende jaar doen. Hy het ook gesê ek moet dat my pa hom bel as ek in Stellenbosch wil gaan swot. My pa het hom nooit gebel nie,” het De Lange vertel.
Noord-Transvaal se skolespan is daardie jaar deur die losskakel Johan van Blommenstein aangevoer. Hy het ook later die Ligbloues se seniorspan op die veld gelei. Toekomstige Springbokke soos Martin van Rensburg (Natal) en Mike Jennings (Westelike Provinsie) het hulle tande op dié eerste toernooi geslyp.
De Lange is die eienaar van ‘n moterhawe in Virginia wat hy en sy vrou Marissa saam bedryf. Hy het na skool vir Durban Wanderers klubrugby gespeel en ook vir Natal se o.20-span. Hier het hy ondermeer saam met die voormalige Springbok-breier Ian MacIntosh en voormalige Springbok Martin van Rensburg gespeel. Hy het daarna na Johannesburg verhuis en hy het in sy eerste wedstryd vir Diggers sy nek gebreek wat sy loopbaan kort geknip het.
- Standard Bank Festival Season to showcase tomorrow’s stars - 2025-03-27
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22