SuperSport Schools Plus

De Aar-afrigter geskors oor ouer spelers

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-09-05

Die rugbyafrigter van die Hoërskool De Aar se o.17-span, Jan Botha, is vir ses maande geskors nadat hy twee o.18-spelers in ’n ligawedstryd teen die Hoërskool Vaalharts van Jan Kempdorp ingespan het.

Die vonnis is vir ’n jaar opgeskort.

SA Rugby se nuusverklaring oor die voorval lui dat Vaalharts die ligapunte vir die kragmeting kry, met De Aar wat sy ligapunte verbeur.

Dié Griekwa-liga se eindstryde is egter reeds op 16 Augustus beslis. Die betrokke liga-wedstryd is deur Vaalharts met 23-16 gewen. Volgens ’n ingeligte het Vaalharts al die aand voor die wedstryd op De Aar oorgeslaap. Die Brode moes 342 km aflê vir die kragmeting.

Van De Aar se o.17-spelers het nie opgedaag nie en Botha het die twee o.18-spelers nader getrek om te verseker dat daar ’n wedstryd plaasvind.

Volgens SA Rugby se Bok­smart-regulasies mag die o.18-spelers nie in die kragmeting gespeel het nie weens hul ouderdom.

’n Speler mag ook nie twee jaar of jonger as die ouderdomsgroep van die kragmeting wees nie. Die twee spelers was nie goed genoeg om in De Aar se eerste span se groep te wees nie en sou dus glad nie vanjaar kon rugby speel nie.

Die nuwe ouderdomsgroepe is juis deur Griekwas se skolevereniging tot stand gebring om te verseker dat rugby op die platteland voortbestaan. Skole neem in drie ouderdomsgroepe, o.19, o.17 en o.15, deel. Volgens die Boksmart-regulasies en die vorige indeling van ouderdomsgroepe sou spelers in hul o.16-jaar glad nie rugby by van die skole kon speel nie.

“Die veiligheid van rugbyspelers in alle ouderdomsgroepe is vir ons van uiterste belang. Hierdie kritieke regulasies is goedgekeur en verlede jaar in werking gestel by al 14 unies om skolerugbyspelers se veiligheid te verseker,” het Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, gesê.

Volgens Roux is die regulasies ingestel om te keer dat gevaarlike praktyke plaasvind waar spelers wat te jonk is teen ouer spelers speel. Saru sal afrigters vervolg wat dié reëls oortree.

Griekwas se skeidsregtersvereniging, met Kat Swanepoel aan die stuur, is ongetwyfeld die unie wat Boksmart se regulasies die strengste toepas.

Daar word glo ’n soortgelyke geval by die Hoërskool Hopetown gedurende die seisoen ondersoek.

Hoewel die regulasies erkenning verdien dat dit die spel baie veiliger maak, wonder kenners hoe groot die impak daarvan op die platteland is en hoeveel spelers verlore vir die spel raak.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.