SuperSport Schools Plus

‘Cravenweek nie als in rugby’

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-05-19

Dit was dalk nooit sy plan toe hy sy tasse destyds vir Stellenbosch gepak het om ’n loopbaan in rugby te volg nie, maar die Stormers se slot Jean Kleyn is nietemin die vierde geslag van sy familie wat vir ’n verteenwoordigende span van die Westelike Provinsie op slot uitdraf.

Sy oupagrootjie Jan Gerber het tussen 1927 en 1929 vir die Streeptruie uitgedraf. Sy ma se een oom, Johan Gerber, het van 1965 tot en met 1970 vir Westelike Provinsie gespeel.

Nog ’n oom, Jan Maree (ook aan sy ma se kant), het in sy loopbaan vir die Streeptruie, Boland en Oostelike Provinsie gespeel.

“Ek het nie beplan om rugby ná skool te speel nie. Ek het maar net ingenieurswese aan Maties gaan swot en toe vir die universiteit se o.19-span gespeel,” het Kleyn, ’n oudleerling van die Hoërskool Linden in Johannesburg die afgelope week gesê.

Kleyn het op skool nooit die Leeus se Cravenweek-span gehaal nie. Hy het wel die Leeus op die o.18-Akademie-week in 2010 verteenwoordig, toe hy in Graad 11 was.

“Die Cravenweek is nie die begin en einde van als as ’n rugbyspeler nie. Dit is steeds moontlik om dit te maak in rugby as jy nie vir die toernooi gekies word nie,” het Kleyn hoop aan talle spelers gegee wat jaarliks oor die hoof gesien word.

Die slot, wat 2.02 m in sy sokkies staan en die skaal op 110 kg laat kreun, het vinnig sy opgang in die rugbywêreld gemaak. Hy is na die Westelike Provinsie se o.19-proefwedstryde genooi en het in dieselfde jaar nog vir die Streeptruie se o.21-span in die eindstryd van die nasionale kompetisie gespeel.

Die span het in die eindstryd teen die Blou Bulle die knie gebuig. Kleyn en agt van sy spanmaats van dié eindstryd in 2012 was weer op die veld teen die Ligbloues in 2013 se eindstryd van die nasionale o.21-kompetisie – en dié keer het die Streeptruie die bordjies verhang.

“Duane (Vermeulen) het tot dusver die grootste invloed op my loopbaan gehad.

“Hy is ’n goeie mentor en is altyd gewillig om my te help as ek iets nie verstaan nie,” sê Kleyn.

Kleyn het vroeër vanjaar teen die Bulle op Loftus Versfeld teen die Bok-veteraan Victor Matfield sy buiging vir die Stormers gemaak. Hy is vandag op die plaasvervangersbank vir die stryd teen die Western Force.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.