SuperSport Schools News

Cravenweek: Bepalingskomitee kan met tameletjie sit en Vrystaat moet juk afskud

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-06-30

NewsGFransSteynDie bepalingskomitee kan moontlik gedurende die 56ste Cravenweek vir hoërskole voor ‘n baie moeilike besluit te staan kom. 

Indien die Westelike Provinsie en die unie se XV-tal na afloop van die vierde dag se wedstryde nog onoorwonne moet die bepalingskomitee besluit of ‘n unie se “tweede span” in die hoofwedstryd van die gesogte toernooi sal speel. Indien dit die geval is, sal dit die eerste keer sedert die ontstaan van die toernooi in 1964 wees dat ‘n unie se naasbestes in die hoofwedstryd in aksie sal wees. 

Die Westelike Provinsie is verlede jaar as die nie-amptelike kampioen gekroon na hy die Sharks met 47-8 in die hoofwedstryd in die Paarl gekarnuffel het. Die Streeptruie sal sy aanslag op vanjaar se titel Maandag op Grey-kollege se hoofveld teen Boland afskop. 

Die gasheer, die Vrystaat, het ‘n gewigtige juk om tydens die week af te skud. Die Vrystaat kon nog nooit al drie sy wedstryde tydens die Cravenweek wen tydens die vorige vier toernooie wat in die Rosestad aangebied is nie. Die span het wel in 1968 daarin geslaag om die toernooi onoorwonne af te sluit, maar het op die laaste dag teen Natal met 9-elk gelykop gespeel. 

Die span van 1968 is destyds deur Grey-kollege se heelagter, Wilhelm Landman, aangevoer. In 1984 het die Vrystaters op die tweede dag teen Transvaal naelskraaps met 9-10 die knie gebuig.

Toe die toernooi in 1995 tydens die Vrystaat Rugbyunie se eeufeesvieringe in Bloemfontein gedraai het, het die Vrystaat wel in die hoofwedstryd vir Boland met 15-13 in die Vrystaat-stadion getroeg. Daar was egter ‘n uiters kontroversiële besluit destyds geneem om die Vrystaat die hoofwedstryd te gee na hy in sy tweede wedstryd teen Suidoos-Transvaal met 11-15 vasgeval het. 

In die span van die Vrystaat het Michael Horak (Engeland, heelagter), Charl Blom (skrumskakel), Werner Struwig (flank en kaptein) en Renier van den Berg (stut) gespeel.

Tydens die vorige Cravenweek wat in die Rosestad aangebied is, in 2005 op Grey-kollege se velde kon die Vrystaat nie daarin slaag om ‘n enkele wedstryd te wen nie. Die span het teen die Goue Leeus (10-26), Griekwaland-Wes (12-13) en die Luiperds (25-26) die onderspit gedelf. Die lede van vanjaar se span was egter nog nie op skool met die laaste toernooi in die Rosestad nie, so sal nie so swaar aan hierdie letsels dra nie. 

Kort voor die Cravenweek in 2005 het een van die Vrystaat se sleutelspelers Frans Steyn sy sleutelbeen gebreek en kon hy nie aan die toernooi deelneem nie. Ander spelers van daardie span wat later senior provinsiale rugby gespeel het sluit in JW Jonker (senter), Kevin Stevens (stut), Donald Stevens (skrumskakel) en Bernd Theissinger (losskakel). 

Die bepalings: 

Maandag, 1 Julie: 10:40 – Valke vs Luiperds 12:10 – Pumas vs Suidwestelike Distrikte; 13:40 – Westelike Provinsie vs Boland; 15:40 – Vrystaat vs Sharks. 

Dinsdag, 2 Julie: 09:30 – Griekwaland-Wes vs Limpopo Blou Bulle; 11:00 – Blou Bulle XV vs Goue Leeus XV; 12:30 – Oostelike Provinsie vs Griffons; 14:00 – Blou Bulle vs Grens; 15:30 – Goue Leeus vs Westelike Provinsie XV.

FOTO: Charl Devenish

[powr-comments id=”96a78904_1561904979498″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.