SuperSport Schools Plus

Conradie-broers lei Boland tot oorwinning

By Willem Louw , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-02-11 Tags: , ,

Boland Landbou 1se XI | Foto: Riëtte Marais

Ondanks uitstekende kolfwerk deur De Waal Vivier (87) en Adrian Louw (68), kon Hoër Landbouskool Boland saamspan om vir Paarl Gimnasium Saterdag op die plaas te verslaan.

Nadat die eerste drie paaltjies vir slegs 24 lopies geval het, het Vivier en Louw vasgeskop teen die Boland-boulers vir ‘n vennootskap van 124 lopies om die besoekers op ‘n stewige voet te plaas.

Stefan Conradie het uiteindelik die groot deurbraak behaal met Louw se paaltjie, danksy sy broer, Kobus Conradie, se vangwerk.

Kort daarna was Stefan Conradie weer betrokke toe hy vir Vivier kon uitvang. Die res van die besoekers se kolwers het nie veel langer gehou nie.

Die Conradie broers was weer aan die spits van die teenaanval. Met ‘n aanvangsvennootskap van 102 lopies het hulle die grondsag gelê vir die Boere se oorwinning.

Stefan het aggressief gekolf en kon 55 lopies in 69 balle aanteken, wat nege grenshoue ingesluit het, terwyl Kobus die anker-rol gespeel het en 91 balle kon absorbeer om ‘n verdere 36 lopies by te voeg.

Jan-Albert van Niekerk (24*) en Henré Swart (3*) het die wenlopies in die 44ste beurt aangeteken.

Volgende naweek is Boland Landbou in die Oos-Kaap om vir Grey High aan te durf in ‘n tweedagstryd.

In Ceres het Luan Giliomee vir Charlie Hofmeyr tot oorwinning gedryf teen Hoërskool Brackenfell.

Charlies kon die besoekers vir 148 uitboul en Giliomee se onoorwonne 81 lopies was genoeg om die oorwinning aan sy span te besorg.

Hy het 12 grenshoue gemoker en teen ‘n lopie per bal gekolf om die besoekers se telling in die 36ste beurt te oorskry.

Beknopte telkaart:

Paarl Gimnasium: 203/9 (De Waal Vivier 87, Adrian Louw 68; Gunther Schmidt 2/23, Francois Prins 2/27, Stefan Conradie 2/71). Boland Landbou: 204/6 (Stefan Conradie 55, Kobus Conradie 36, Ekstras 30, Jan-Albert van Niekerk 24*, Rynhard van der Schyff 22, Lohann Louw 21; Zheemo Isaacs 1/21). Boland wen met vier paaltjies.

Hoërskool Brackenfell: 148 (Antonio Jasson 39, Jean Oosthuizen 27, Ekstras 20; Rossouw Matthee 3/20, Leolan Davids 2/23, Keahan Alexander 2/25). Charlie Hofmeyr: 149/7 (Luan Giliomee 81*; Jean Oosthuizen 3/23, JJ Mans 2/23). Charlie Hofmeyr wen met drie paaltjies.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.