Coca-Cola Cravenweek volgende jaar na Middelburg
DAAR is ‘n groot kans dat Griekwas slegs een span volgende jaar na die Cravenweek-toernooi vir hoërskole sal stuur.
Die feit dat Griekwas en Griekwas-platteland nie so suksesvol soos gewoonlik is sedert die twee sedert 2008 as aparte spanne aan die Cravenweek deelneem nie, kan dalk ‘n agterdeur vir die Suid-Afrikaanse Skole-rugbyvereniging (SASRV) oopmaak om ‘n harde besluit oor Grens-platteland se deelname te neem. Indien Griekwas versoek om weer as een span aan die toernooi deel te neem sal Grens-platteland se dae op die toernooi getel wees.
Die SASRV sal reeds ná die tweede dag van dié toernooi opnuut bekommerd wees oor die vertoning van Grens-platteland. Dié span was sedert 2004 se toernooi in Nelspruit nog net in drie van sy 28 wedstryde aan die wenkant. Sy laaste sege was in 2009 in Oos-Londen toe hy die SA LSOB-span (vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes) 17-5 geklop het. Die LSOB-span en die nasionale Akademie-span is as proefnemings daardie jaar by die toernooi betrek. Dit was albei spanne se laaste deelname aan dié toernooi.
“Daar is nuwe planne rondom ontwikkeling in die toekoms wat deur SA Rugby beplan word. Hopelik sal Grens-platteland daarby baatvind,” het Thys Bezuidenhout, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skole-rugbyvereniging, gesê.
Grens-platteland het in sy laaste 28 wedstryde 1155 punte afgestaan en 225 aangeteken vir ‘n gemiddelde nederlaag van 8-41.
Die Suid-Afrikaanse Skole-rugbykeurders het vanjaar waarskynlik reeds ‘n meer deeglike taak gedoen om seker te maak dat hulle nie ‘n talentvolle speler vir die nasionale skolespan oor die hoof sien nie. Die keurders het vanjaar die Akademie-week bygewoon op soek na talent en boonop tydens die seisoen met mekaar gekommunikeer oor talentvolle spelers wat hulle by skolewedstryde sowel as op televisie-wedstryde gesien het.
Dié Suid-Afrikaanse Skole-span sal vanjaar weer soos altyd na afloop van die hoofwedstryd van die Cravenweek-toernooi vir hoërskole bekend gemaak word.
Daar sal Saterdag na afloop van die 50ste Cravenweek-toernooi vir hoërskole 28 spelers se name deur SA Rugby se vise-president James Stoffberg uitgelees word. Dié nasionale o.18-span sal in Augustus teen onderskeidelik teen sy eweknie van Engeland, Frankryk en Wallis te staan kom.
Die wedstryd teen Engeland sal op 10 Augustus in Kaapstad gespeel word, waarna die span in George op 13 Augustus teen Frankryk sake sal uitspook. Die laaste wedstryd word op 17 Augustus teen Wallis in Wellington beslis.
Intussen is daar ook bekend gemaak dat volgende jaar se toernooi deur HTS Middelburg in Middelburg aangebied gaan word. Die laerskole-toernooi word volgende jaar deur Durban gehuisves, terwyl die Grant Khomo-week (vir o.16-spanne) in Pretoria gehou word. Die Akademie-week se gasheer sal Wellington wees
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16