Bultfontein en Sandveld deur tot eindstryd van Colt-liga
DIE rugbyspanne van die Sandveld oorheers die eerste weergawe van die Colt-liga. Die Hoërskool Bultfontein en Hoërskool Sandveld van Wesselsbron sal mekaar in die eindstryd van die liga in die Kovsiestreek-kompetisie op Shimlapark eerskomende Saterdag pak. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.
Bultfontein is behoorlik is sy halfeindstryd in die eerste helfte deur die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg die skrik op die lyf gejaag. Bultfontein het die kragmeting op die einde gemaklik 50-9 gewen, maar teen lemoentyd slegs ‘n voorsprong van 12-9 geniet.
Die flank van Bulties Guilliam Viljoen was woelig gewees. Die stut Brian van Bosch het self ‘n stewige vertoning opgedis. Agterlangs het die senter Arno Taljaard en vleuel Marnus Geustyn vir Reddersburg problem besorg.
Vir die verloorspan het die twee slotte Lukas Muller en Nganga Ndamase uitstaande spel gelewer.
Sandveld het Hoërskool Blinkklip van Postmasburg op GWK-park 50-19 verslaan. Die span van Wesselsbron het in die tweede helfte ‘n insinking beleef na hulle teen die omdraaislag 31-7 voorgeloop het.
Sandveld se lostrio met Michael Fulton en Reinhardt Lennox aan die spits het die grondslag vir die oorwinning gelê. Albei het twee keer agter die doellyn gaan kuier. Fulton het ook ‘n hele paar keer besit by die afbreekpunte by Blinkklip afgeneem. Die haker Jaco Groenewald het ook ‘n blink vertoning gelewer, terwyl die senter Johan Fick goeie visie ten toon gestel het.
Sandveld se breier Kalla Kalsbeek het in 2008 Hennenman tot die eindstryd van die Irawa-liga (vir kleinskole) gebrei so hy behoort te weet wat van sy span verwag word indien hulle Bultfontein wil verras.
Vir die verloorspan het sy flank Melville Pieterse, losskakel Ryan Paulsen en heelagter Sandrake Ndala moedig probeer.
In die Volksblad-liga (vir o.15-spanne) het Noord-Kaap en Sentraal tot die eindstryd deurgedring. Northerns het Voortrekker 26-0 in sy halfeindstryd verslaan om as vroeë gunsteling na vore te tree. Die Tralies moes veel harder werk vir sy plek in die eindstryd deur die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad 10-8 te klop.
Puntemakers:
Bultfontein 50 (12) – Drieë: Arno Taljaard (2), Andrich Olivier (2), Brian van Bosch, Guilliam Viljoen, Marnus Guestyn, Armand Kuhn. Doelskoppe: Arno Taljaard (4), GJ van Eeden. Reddersburg 9 (6) – Strafdoele: Donovan Pretorius (3).
Sandveld 50 (31) – Drieë: Michael Fulton (2), Reinhardt Lennox (2), Monwabesi Mexico, Sonnyboy Booysen, Naledi Madungwa, Jaco Groenewald. Doelskoppe: Mexico (5). Blinkklip 19 (7) – Drieë: Melville Pieterse, Ryan Paulsen, Sandrake Ndala. Doelskoppe: Ndala (2).
Sentraal o.15 10 – Drie: Rocco Willemse. Doelskop: Marco Rademeyer. Strafdoel: Rademeyer. AHS Kroonstad o.15 8 – Drie:
Noord-Kaap o.15 26 – Drieë: Mark Aitken, Jeandré Smit, Gladwen Nieuwenhuizen, Matthew Wessels. Doelskoppe: Aitken (3). Voortrekker o.15 0.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16