Bulle-stryd toppunt van Cravenweek
DIE Westelike Provinsie se o.18-rugbyspan skop sy aanslag op vanjaar se 50ste Cravenweek-toernooi vir hoërskole in Polokwane vandag teen die Pumas af. Indien die Streeptruie in die wedstryd koning kraai sal die span waarskynlik teen die wenner van die wedstryd tussen die Blou Bulle en KwaZulu-Natal in sy tweede kragmeting van die toernooi te staan kom.
Die Streeptruie is saam met die Blou Bulle van die vroeë gunstelinge om vanjaar in die hoofwedstryd van die toernooi te speel. Dié span moet nou wel sonder sy Suid-Afrikaanse Skole-slot JD Schickerling klaar kom, maar die span het steeds genoeg ysters voorlangs om saam met enige span op die toernooi meet e ding. Die span se loskopstut Thomas du Toit, flank Jacques Vermeulen en agtsteman Rikus Bothma behoort voorlangs die pap dik aan te maak. Agterlangs behoort die voormalige Springbok Michael du Plessis se seun Daniël du Plessis op binnesenter die span se planmaker te wees.
Die Streeptruie kan egter nie die Pumas te ligtelik opneem nie. Die span se twee vernaamste voederskole, HTS Middelburg en Hoërskool Nelspruit, het mekaar in die eindstryd van die NuPower/Tuks-reeks gepak. ‘n Kompetisie waarin meeste van die top skole van die Noordelike streek deelneem.
Die Boland speel in die hoofwedstryd van die dag teen die gasheer die Limpopo Blou Bulle. Die wedstryd beloof om opwindende hardlooprugby op te lewer.
Boland was laas in 2010 op Welkom onoorwonne op die toernooi en toe was die Jong Bokkies Wian Liebenberg en Pieter-Steph du Toit in sy geledere. Liebenberg was die kaptein en sou later ook die nasionale o.20-span tot wêreldkampioen aanvoer.
Die twee se jonger broers die slot Johan du Toit en Hanro Liebenberg is vanjaar ook vir die Wynboere in aksie. Die jonger Liebenberg voer ook natuurlik dié span aan.
Suid-Westelike Distrikte speel sy eerste wedstryd eers more teen die Leeus. Die Volstruisboere is ook een van die vroeë gunstelinge om in die hoofwedstryd in aksie te wees. Dié span moet ook sonder sy planmaker en SA Skole-senter, Warrick Gelant klaarkom wat die toernooi weens ‘n besering misloop.
Die span het darem nog sy nasionale skole-vleuel, Duhan van der Merwe en losskakel Dewald Human in sy geledere wat gevaarlike spelers op die aanval is.
Die bepalings:
8 Julie – 09:20: Griekwaland-Wes t. Zimbabwe; 10:40: Grens t. Namibië; 12:00: Westelike Provinsie t. Pumas; 13:20: Blou Bulle t. KwaZulu-Natal; 15:40: Limpopo Blou Bulle t. Boland.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16