SuperSport Schools Plus

Brandon verskaf Griekwa-vonk

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-06-30

SASOLBURG. – As die Noordvaal-Bondedag enigsins as ’n rigtingwyser beskou kan word, sal die o.18-rugbyspan van Griekwaland-Wes vanjaar ’n veel hegter eenheid as die afgelope tyd op die Cravenweek-rugbytoernooi wees.

Die Poubloues het Saterdag hier in die DP de Villiers-stadion die Luiperds met 34-7 kafgedraf. Griekwas kom op die tweede dag van die 51ste Cravenweek vir hoër­skole van 14 tot 19 Julie in Middelburg (Mpumalanga) teen die melkkoeie van die toernooi, Grens-platteland, te staan.

’n Gedugter Griekwa-span kan dalk vanjaar met eer uit die stryd tree na afloop van hul drie wedstryde op vanjaar se toernooi.

Teen die Luiperds het die span nie in die eerste tien minute oortuig nie en het dit gelyk asof die geploeter van die afgelope paar jaar maar vanjaar sal voortgaan. Die Luiperds het vroeg met 7-0 voorgeloop nadat sy agtsteman, Edmund Rheeder, oorgeval het.

Die span van die Noord-Kaap se skrumskakel, Brandon de Melim, het met ’n paar breekslae om die losskrums sy span op die voorvoet begin kry en toe hy vir sy span se eerste drie oorduik, was dit welverdiend.

Sy vonk het die vuur verskaf wat die Poubloues nodig gehad het. Die voorspelers het ook skielik die oorhand begin kry en die slot Rikus Zwart het in die lynstane en in die los uitgetroon.

Die heelagter, Keaton Gordon, het sy span se tweede drie gedruk nadat hy die bal net buite sy span se doelgebied onderskep het.

Die gereelde heelagter, Wilfred Bowers, was op die vleuel soos gewoonlik gevaarlik op die aanval. Hy het ’n hele paar keer verdedigers na die lug laat gryp met sy vaart en vinnige voetwerk.

Die feit dat die losskakel, Robbie Petzer, sy skopskoene aangehad het, het ook gehelp. Petzer het takties goed geskop en sy stelskopwerk het die telbord aan die rol gehou.

Die wenspan se versoolde binnesenter, Gerhard Holtzhausen, verdien ook ’n klop op die skouer vir sy vertoning.
Hy was verlede jaar dié span se agtsteman op die Cravenweek in Polokwane.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.