SuperSport Schools Plus

Brandfort kraai weer koning

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-04-01

Nuus BrandfortDIE Hoërskool Staatspresident Swart op Brandfort se eerste rugbyspan het met ’n wegholsege van 71-0 oor Wessel Maree van Odendaalsrus sy onoorwonne status op sy jaarlikse sportdag behou.

Dit was Saterdag die 15de keer dat dié skool die dag aangebied het en die eerste span het sy grootste sege nog in die hoofwedstryd behaal. Die gasheer was met die omdraaislag met die telling 31-0 reeds stewig in die saal.

Die span se flank Jaco Erasmus en buitesenter Johan de Beer het elk ’n driekuns aan drieë behaal.

Die wenspan het 11 drieë gedruk. Die lostrio Erasmus, Niel Terblanché en Jan Serfontein was aan die voorpunt van dié oorwinning. Agterlangs was De Beer met sy breekslae te goed vir Wessel Maree.

Noord-Kaap het in die vernaamste voorwedstryd van dié dag vir Welkom-Gimnasium 38-0 getroef. Die wenspan se losskakel Guillermo Minnie, binnesenter Luke Mason en buitesenter Dimitrio Tieties was uitmuntend. Die span se flank Nico Graaff het twee van sy span se ses drieë gedruk.

Zastron het teen die Griffons-kampioen, Hentie Cilliers, weer gewys dat hy vanjaar nie maklik gekeer gaan word om sy titel as Vrystaatse B1-liga-kampioen suksesvol te verdedig nie. Hentie Cilliers het die kragmeting 43-24 gewen, maar het rustyd slegs ’n voorsprong van 19-11 geniet.

Die wenspan se agtsteman, Gregan Hull, het sy goeie spelpeil voortgesit en ook drie keer agter Zastron se doellyn gaan kuier. Henties se slot Brandon Kuzatjike het ook ’n blink vertoning gelewer.

Vir Zastron het sy agtsteman, Hendri Roodt, uitmuntende spel gelewer. Hy het ook sy span se twee drieë gedruk. Die haker Hendri Slabbert, senter AJ Goosen en heelagter Stefan Greyling kan ook tevrede met hul vertoning voel.  

Goudveld-Hoërskool se Cravenweek-senter, Shaun Reynolds, was aan die voorpunt van sy span se oorwinning van 39-5 oor President Steyn. Reynolds het twee van sy span se drieë gedruk en ook twee doelskoppe oorgeklits. Die span se losskakel Eric Herbert het agterlangs ook meer as sy deel gedoen.

Voorlangs was die stut Gerhard Viljoen en agtsteman Willie Baartman die uitblinkers. Vir die Steyners het die stut Juan Grobbelaar en haker Jaco Becket moedig probeer.

GJ van Eeden, losskakel van Bultfontein, het 20 van sy span se punte in ’n oorwinning van 50-7 oor Hendrik Potgieter van Reddersburg aangeteken. Van Eeden het twee drieë gedruk en ook vyf van sy span se agt drieë verdoel.

Sandveld van Wesselsbron was ook te sterk vir die Hoërskool Boshof en het met 31-0 as oorwinnaar uit die stryd getree.

Puntemakers: 

Brandfort 71 (31) – Drieë: Jaco Erasmus (3), Johan de Beer (3), Henco de Wet, Vlam Groenewald, Anton Buffet, Drikus Rautenbach, Niel Terblanche. Doelskoppe: De Wet (4), Henco Pieterse (4). Wessel Maree 0.

Noord-Kaap 38 (12) – Drieë: Nico Graaff (2), Hillford Clarke, Dimitrio Tieties, Leon Becker, Lux Khoza. Doelskoppe: Tieties (4). Welkom-Gimnasium 0.

Hentie Cilliers 43 (19) – Drieë: Gregan Hull (3), Riaan Pretorius (2), Jameel Afrika, Brandon Kuzatjike. Doelskoppe: Jaywin Juries (4). Zastron 24 (11) – Drieë: Hendri Roodt (2). Doelskop: Nakkie Naudé. Strafdoele: Naudé (3). Skepdoel: Naudé.

Goudveld 39 (23) – Drieë: Shaun Reynolds (2), Eric Herbert, Edward Reynierse, Jaco Louw. Doelskoppe: Reynolds (2), Herbert (2). Strafdoele: Herbert (2). President Steyn 5 (5) – Drie: Leehane Ontong.

Bultfontein 50 – Drieë: Corné Pohlmann (2), GJ van Eeden (2), Guilliam Viljoen, Andrich Olivier, Etienne Botha, Armand Kuhn. Doelskoppe: Van Eeden (5). Hendrik Potgieter 7.

Sandveld 31 – Drieë: Alexis Havenga, Reinhardt Lennox, Bobby Nyakalo, Aubrey Mosea, Donald Grant. Doelskoppe: Monwabesi Mexico (3). Boshof 0.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.