SuperSport Schools Plus

Brandfort baas op Sportdag teen Parys

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-03-03

 

Brandfort. – Die Hoërskool Staatspresident Swart het Saterdag hier met ‘n sege van 28-16 oor die Hoërskool Parys die eerste tree gegee om sy trotse rekord op sy jaarlikse Pieter Swanepoel Sportdag te herbou.

Die gasheer het rustyd reeds met 18-3 voorgeloop. Die span se kaptein en senter, Henco de Wet, het saam met die heelagter Pieter Reynecke en vleuel André Janse van Rensburg agterlangs vir Parys probleme besorg. 

Die kantman, Coenraad Bezuidenhout, het Parys vroeg in die wedstryd probleme by die afbreekpunte besorg. Hy het in die eerste helfte in ‘n kort tydperk vyf keer balbesit by Parys afgeneem.

Die voorryman, Hanno Terblanché, het elke keer wat hy die bal onder die arm vasgeknyp het ver ente veld gewen. De Wet het 19 van sy span se punte via ‘n drie, twee doelskoppe en drie strafdoele aangeteken.

In ‘n kragmeting waar dit duidelik was dat dit nog vroeg in die seisoen is, het Louis Botha vir Welkom-Gimnasium met 10-3 getroef. Die span van die Rosestad het rustyd met 7-3 voorgeloop, danksy ‘n skitterende drie deur sy flank, Siya Luwaca. Albei spanne het te veel hanteringfoute begaan.

Luwaca was ook op die verdediging vir die wenspan ‘n rots gewees. Sy werksverrigting het ook beïndruk. Hy is voorlangs deur die slot, Austin de Bruin, bygestaan wat in die lynstane en vastelos goed gevaar het.

Van die plaasvervangersbank het die flank, Ayabonga Ntaba, by die losskrums en losgemale ‘n reuse verskil in die tweede helfte gemaak. Vir Gimmies het sy flank, Byron Ferreira, en loskopstut, Fanie Vermaak, voorlangs goeie spel gelewer. Agter die skrum was die skrumskakel, Jason Olivier, soos gewoontlik ‘n ster.

Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad het Fichardtpark met 24-14 op die sportdag uitoorlê. Rooiskool het met die omdraaislag ‘n skrale voorsprong van 17-14 geniet.

Die span van Kroonstad se slot, Machiel Bosman, het met sy bedrieglike vaart ‘n hele paar keer gepaardgaande met ‘n fopaangee vir Fichies laat bontstaan. Die agtsteman, Johan Steyn, was die ander uitblinker voorlangs. In die agterhoede het die heelagter, Louis Steyn, en skrumskakel, Duncan Horak, meer as hulle werk gedoen.

Vir Fichies was sy agtsteman Hugo Maartens, flank Eckhardt Kuhn en senter Myburgh van Zyl staatmakers.
Die Hoërskool Kalahari van Kuruman het ‘n goeie sege van 20-14 oor Hentie Cilliers van Virginia behaal. Bultfontein het vir President Steyn met 15-12 in hulle kragmeting verras, terwyl Hennenman met 27-17 oor die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg baas was. Koffiefontein het vir Theunissen met 17-12 getroef. Martie du Plessis het Brandfort se tweede span met 10-0 geklop.

Noord-Kaap het Lichtenburg op laasgenoemde se tuisveld met 60-7 verwoes. Die span van Kimberley het reeds vanjaar ook vir Hoërskool Klerksdorp met 33-5 verslaan. Landboudal van Jacobsdal het vir Zastron ‘n drag slae van 68-6 toegedien.

Puntemakers: 

 

Brandfort 28 (18): Drieë: Pieter Reynecke, Henco de Wet, André Janse van Rensburg. Doelskoppe: De Wet (2). Strafdoele: De Wet (3). Parys 16 (3).

AHS Kroonstad 24 (17): Ettienne O’Donovan, Louis Steyn, Duncan Horak. Doelskoppe: Corné Cooper (3). Strafdoel: Cooper. Fichardtpark 14 (14): Drie: Ian Mollentze. Strafdoele: Janco Pretorius (3).

Louis Botha 10 (7): Drie: Siya Luwaca. Doelskop: Jeandré Christian. Strafdoel: Christian. Welkom Gimnasium 3 (3): Strafdoel: Luan Jones.

Bultfontein 15: Drieë: GJ van Eeden, Jano Smit, Jopie Taljaard. President Steyn 12: Drieë: Kobus van Tonder, Fanie Griesel. Doelskop: Griesel.

Kalahari 20: Drieë: Erlu Jonck, Wim Eilerd, Letstasi Vos. Doelskop: Johnny Hollenbach. Strafdoel: Hollenbach. Hentie Cilliers 14.

Hennenman 26 (7): Drieë: Nico Venter (2), Juhze Piechaczek, Eben Uys. Doelskoppe: Angelo Pienaar (3). Hendrik Potgieter 17 (7): Drieë: Michael Roberts, Pieter van der Merwe, Lukas Muller. Doelskop: Jeandré Rautenbach.

Koffiefontein 17: Drieë: Lerico Seeco (2), Morné Jacquire. Doelskop: Ishmael Charlie. Theunissen 12: Drieë: Thabang Raputsoane, Wian Jordaan. Doelskop: Innocent Rakotsoane.

Noord-Kaap 60: Drieë: Brandon de Melim (2), Cameron Hufke (2), Wilfred Bowers (2), Cleo Adams, Zayne Farmer, Gerhard Holtzhausen, Howard Lottering. Doelskoppe: Hufke (5). Lichtenburg 7: Drie: Jaco Lombaard. Doelskop: Lombaard.

 

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.