SuperSport Schools Plus

Botha ewenaar eie uitstaande boulsyfers

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-08 Tags: , , , , , , , , ,

Old Cricket Ball on GrassDit het slegs twee dae se krieket geneem vir Kriegler Botha se uitstaande boulsyfers van 5/5 om geëwenaar te word.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Min mense sou egter geld daarop verwed het dat Botha die een sou wees om sy eie syfers, die beste by vanjaar se Kovsie Smash tot dusver, te ewenaar. Die staatmaker van Transvalia het die paaltjies nogmaals laat spat in sy span se oorwinning oor Hoërskool Sentraal en, nes twee dae vantevore, nie op hom laat wag om vir ‘n tweede keer vyf paaltjies vir slegs vyf lopies te laat kantel nie.

Jeanre Barnard, die toernooi se voorste lopievraat, het die grondslag vir Botha en die res van Transvalia se boulers gelê. Hy het ‘n 64 lopies tot sy week se totaal bygevoeg om met 189 in vier wedstryde te spog.

Die duo se puik prestasies het aan die span van Vanderbijlpark ‘n klinkende oorwinning met 96 lopies besorg. Dit is boonop die grootste oorwinning tot dusver by vanjaar se toernooi.

Jim Fouché se Cobus Wilken (3/21) het ‘n web om Hoërskool Witteberg se laerorde gespin om ‘n naelskraapse sege met net twee lopies te verseker. Wilken het in sy laaste beurt twee Witteberg paaltjies laat kantel om die span van Bethlehem, met slegs een bal, vir 108 uit te boul. Johan van Dyk (3/21) het mooi hand bygesit om die Bloemfonteiners se lae telling van 110 te verdedig.

Celliers van der Merwe het Hoërskool Pietersburg se greep op Groep D verder versterk met ‘n Speler van die Wedstryd-vertoning. Van der Merwe het eers met die bal onherstelbare skade aangerig om vier paaltjies vir net 12 lopies te neem en Despatch tot ‘n teleurstellende 50 almal uit te beperk. Daarna het hy met die kolf ‘n onoorwonne 25 aangeteken om die Pieties tot ‘n oorwinning met agt paaltjies deur te sien.

Die twee Van Heerdens, Strauss (47) en SW van Heerden (24*), was vir die soveelste keer vandeesweek Hoërskool Kalahari se voorslagkolwers en het ‘n sleutelrol gespeel daarin om HTS Middelburg met ses paaltjies die loef af te steek. Dit beteken voorts dat die span van Kuruman steeds onoorwonne is en hul posisie bo aan Groep C se puntelys verstewig het.

Beknopte telkaarte:

Transvalia 156/6 (Jeanre Barnard 64, Ashton Cachia 43; Ruardt Kleynhans 2/23, Danny Botes 2/36); Sentraal 60 (Erik Prinsloo 22; Kriegler Botha 5/5, Zanru Barnard 3/7, Aden Matthee 2/17). Transvalia wen met 96 lopies.

Jim Fouché 110 (Benco Olivier 33, Joden Voster 27; Dumisani Johnson 4/11, Jayden Jacobs 2/6, Mila Oersen 2/20); Witteberg 108 (Piet Nel 21; Cobus Wilken 3/21, Johan van Dyk 3/21). Jim Fouché wen met twee lopies.

Despatch 50 (Ekstras 13; Celliers van der Merwe 4/12, Hardus Schoeman 3/5, Willem Viljoen 2/8); Hoërskool Pietersburg 53/2 (Celliers van der Merwe 25*, Dian Gouws 22*; Shelton Classen 2/11). Hoërskool Pietersburg wen met agt paaltjies.

HTS Middelburg 128/9 (Anthoni Smuts 39, Henry Kemp 34; Leander Smit 3/12, Kopano Mosienyane 3/29, Carl Thole 2/10); Kalahari 134/4 (Strauss van Heeren 47, SW van Heerden 24*, Janko Noeth 23*; Armand Kotze 2/16). Kalahari wen met ses paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.