Boland Landbou troef Paul Roos eerste keer sedert 2002 in Eikestad
Boland Landbou het vir die eerste keer sedert 2002 daarin geslaag om Paul Roos Gimnasium op sy agterplaas in Stellenbosch kaf te draf. Die span van die Agter-Paarl het met 32-22 as oorwinnaars van die veld gestap.
Boland Landbou het met die wind in sy rug ’n kliniese vertoning in die eerste gelewer om met ’n gerieflike voorsprong van 27-0 te gaan rus. Dit was veral sy skrumskakel, Deon Carstens, wat spel van agter die oond uitstekend dikteer het.
Sy kaptein en flank, Heinrich Brendel, het ook ’n blink vertoning gelewer.
Paul Roos se SA Skole-heelagter, Joshua Vermeulen, was in die tweede helfte grootliks vir sy span se terugvegpoging verantwoordelik.
Die Hoërskool Noord-Kaap het vir ’n groot opskudding gesorg toe hulle Diamantveld op laasgenoemde se tuisveld in Kimberley met 32-17 in hul jaarlikse Classic Clash verslaan het.
Northerns se voorryman, Spinnekop van Aswegen, het die vuur vir die sege gestook. Agterlangs het die skakelpaar, Marc Aitken en Chadwin November, die kitaar geslaan.
Louis Botha het Sentraal as die Vrystaatse A-liga kampioen onttroon toe hy hom met 49-24 op Shimlapark in Bloemfontein verslaan het. In die HT Pelatona-stadion in Welkom het Welkom Gimnasium sy titel as kampioen van die Griffon-liga behou deur Voortrekker van Bethlehem met 35-8 af te stof.
Bothaville se span het geskiedenis gemaak deur sy skool se eerste span te word om as kampioen van die Vrystaatse Platteland-liga gekroon te word. Hy het Hennenman met 29-17 in die eindstryd verslaan.
Paarl Gimnasium het geen genade vir Primrose-klub in hul weghol-oorwinning van 117-0 betoon nie. Gimmies het 17 drieë in die wedstryd ingeryg.
Die span se flank Henco Martins het die enigste driekuns aan drieë behaal, terwyl die span se losskakel, Theo “Fiela” Boshoff kon slegs een van sy span drieë nie verdoel nie en het self ook ’n draai agter die doellyn gegooi.
Boshoff het dus 32 punte tot die sege bygedra.
Hoërskool Outeniqua het in Uitenhage vir Brandwag op ’n drafstap met 42-10 die loef afgesteek. Dit was die tuisspan se eerste nederlaag sedert 2014 op sy tuisveld. Dit was sonder twyfel die Kwaggas se beste vertoning vanjaar.
Oakdale Landbou moes ietwat harder werk in Port Elizabeth om vir Framesby met 31-21 te troef. HTS Drostdy het vir HTS Daniël Pienaar met 34-21 getroef. Die Donkies se volgende kragmeting is teen die onoorwonne Hoër Jongenskool Paarl wat sal bepaal wie tot die eindstryd van Die Burger se Grootskole-kompetisie sal deurdring.
Drostdy se vaskopstut, Rion Duvenage, en die skrumskakel, Romeo Eksteen, het goed teen Daniël Pienaar vertoon.
Selborne College het sy jaarlikse interskole teen Grey PE met 27-21 in Oos-Londen in ’n Classic Clash verslaan. Die tuisspan het teen die omdraaislag reeds met 13-0 voorgeloop.




