SuperSport Schools Plus

Boishaai weer onoorwonne en Grey glip in doodsnikke verby Paul Roos

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-08-21

NewsG VianFourieBoishaaiDie Hoër Jongenskool Paarl het daarin geslaag om vir die tweede agtereenvolgende jaar sy seisoen onoorwonne af te sluit, terwyl Grey-kollege in die doodsnikke vir Paul Roos Gimnasium van ’n sege beroof het. Op die plaas in die Agter-Paarl het Boland Landbou vir Oakdale Landbou in ’n klipharde tweestryd met 27-22 die loef afgesteek.

Boishaai het met sy oortuigende oorwinning van 51-15 oor HTS Drostdy sy 39ste agtereenvolgende sege op die rugbyveld behaal. Die twee wedstryde tydens Nuweland se jaarlikse skoledag is nie hierby bygereken nie. Die span van die Paarl het dus vir die tweede agtereenvolgende jaar daarin geslaag om die seisoen as Suid-Afrika se voorste skolespan af te sluit.

Daar kan ook reeds in die Paarl gespot word dat die Jongenskool se tweede span waarskynlik die tweede beste span in die land is. Boishaai se tweede span het ook gister met ’n oorwinning van 46-0 oor die Donkies se naasbestes ook vir die tweede agtereenvolgende jaar sy seisoen onoorwonne afgesluit.

Grey-kollege het op sy tuisveld in Bloemfontein vir Paul Roos met 34-32 in die doodsnikke van die wedstryd verslaan. Dit was dalk nie Grey se beste vertoning van die jaar nie, maar sonder sy vyf nasionale skolespelers sal die Bloemfonteiners tevrede met die sege wees.

Paul Roos het die wedstryd in die sakkie gehad met die telling op 32-27 in hul guns. Grey het met speeltyd reeds verstreke die bal aangeslaan waarna die besoekers se vleuel David-Ley Moses die bal oor die kantlyn gegooi het. Dit het sy span se strafskop gekos, het is kort daarna ook koelkas toe deur die skeidsregter, Griffon Colby, vir nog ’n oortreding gestuur.

Grey het se flank Wihan Kloppers het drie minute na die sirene vir ’n drie vanaf ’n rolmaalbeweging oorgeval om die telling gelyk te trek. Die plaasvervanger-losskakel, Christopher Schreuder, het toe die doelskop sekuur tussen deur die pale gejaag om sy span vir die eerste en ook die belangrikste keer te laat voorloop.

Boland Landbou het die neiging wat sedert 2011 in die interskole tussen hom en Oakdale heers voortgesit deur op sy tuisveld met die louere weg te stap.

Paarl Gimnasium en Outeniqua se Kwaggas het in die Paarl vir ’n opwindende wedstryd gesorg deur 101 punte in die 70 minute van die wedstryd aan te teken. Gimmies het die wedstryd met 59-42 gewen.

Stellenberg kon sy seisoen ook op ’n hoogtepune afsluit deur Tygerberg met 68-5 af te ransel. Die span se vleuel Angelo Davids het met ’n driekuns aan drieë sy total vir die seisoen tot 19 opgestoot.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.