Blou Bulle slaan slag teen die Valke op Bondedag
Sasolburg. – Die Blou Bulle se o.18-rugbyspan het momentum vir die Cravenweek in Stellenbosch gekry deur die Valke met 30-17 in die hoofwedstryd van die jaarlikse Noordvaal Bondedag in die DP de Villiers-stadion hier te verslaan.
Die Ligbloues was in ’n verwoestende bui en het teen lemoentyd ’n voorsprong van 20-3 opgebou. Of dit ’n sielkundige voorsprong was wat die spelers van die Afrikaanse
Hoër Seunskool van Pretoria oor dié van EG Jansen van Boksburg het na eersgenoemde se oortuigende sege vroeër vanjaar oor die Boksburgers, en of die Valke straks net ’n afdag beleef het, sal eers by die Cravenweek beantwoord word.
Die Blou Bulle se lostrio van Eduan Lubbe, Phillip Krause en Regardt du Plessis was uitmuntend. Dié drie se samespel as kombinasie behoort in Stellenbosch een van die Ligbloues se sterkpunte te wees.
Vir Krause moes dit ’n lekker gevoel gewees het om in die dorp waar sy pa, die voormalige Blou Bul- en Griekwaflank, Piet Krause, sy eerste groot tree as speler gegee het, uitgeblink het.
Krause sr. was in HTS Sasolburg toe hy in 1991 die Vaaldriehoek se eerste SA Skole-speler geword het.
Die Valke het in die eerste helfte futloos vertoon. Slegs die losskakel, Xander Crause, was soos altyd ’n steunpillaar vir sy span. Die flank Dylan van der Walt het voorlangs moedig probeer.
Die Valke het in die tweede helfte sterk teruggeveg en ná die losvoorspeler Damian Karelse se drie, het die Blou Bulle met net 20-17 voorgeloop.
Toe die wenspan se Embrose Papier, SA Skole-skrumskakel, boonop kort daarna ’n geelkaart van AJ Jacobs, die skeidsregter, ontvang het, het dit gelyk of die Valke dalk teen verwagting die wedstryd sou wen.
Die Ligbloues het egter dié idee gou ’n nekslag toegedien deurdat die vleuels, Runan Venter en Snowy Zondani, kort ná mekaar ’n draai agter die doellyn gaan maak het. Die Pretorianers sal gewis een van die spanne by vanjaar se Cravenweek wees om te klop.
Voorlangs het die stut Cabous Eloff en die slot Ruben van Heerden baie goed gespeel.
Eloff het tien minute in die koelkas deurgebring ná ’n onderonsie.
Agterlangs het Louritz van der Schyff en Stedman Gans ook meer as stewige vertonings gelewer.
Die Valke is nie ’n span wat gering geskat kan word nie.
Dié span behoort onder die voorste ses spanne op vanjaar se toernooi te eindig.
Puntemakers:
Blou Bulle 30 (20) – Drieë: Schalk Erasmus, Louritz van der Schyff, Runan Venter, Snowy Zondani. Doelskoppe: Andell Loubser (2). Strafdoele: Loubser (2). Valke 17 (3) – Drieë: Xander Crause, Damian Karelse. Doelskop: Crause. Strafdoel: Crause.




