Bloem Hoër maak geskiedenis teen Sannies

Bloemfontein Hoërskool het vandeesweek geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer ooit met Sand du Plessis af te reken.
Brandan Erasmus (flank) en Ora Maleme (vleuel) het elk ‘n tweekuns behaal vir Bloem Hoër om dié mylpaal te behaal.
Met nog drieë deur Hlalele Motaki (buitesenter) en Wessel van der Merwe (agsteman) het hulle 34 punte sonder antwoord teen Sand du Plessis aangeteken.
Die lostrio van Erasmus, Van der Merwe en Xander Pretorius was uitstekend. Erasmus het verál die toon aangegee het met sy kragtige lopies en klipharde verdediging
Nadat hulle vroeër vanjaar reeds vlugtig hul potensiaal tentoongestel het, dien hierdie oorwinning as ‘n duidelike aanduiding van hoe gevaarlik die Bloemfontein-seuns kan wees wanneer hul spelpatroon tot sy reg kom.
Loskopstut, Jamal Pretorius, en sy makkers het verwoesting gesaai onder die Sannies se voorspelers om hul span deurentyd op die voorvoet te plaas, met Jano Jackson wat sake uitstekend dikteer het vanuit die losskakel-posisie.
Intussen het Hendrik Potgieter (Reddersburg) en St. Andrew’s School ook wegholseges in hul onderskeie ligabepalings behaal.
‘n Driekuns deur die Reddersburg vleuel, Tumi Pholoane, het gehelp om die Hendrik Potgieter-span vir ‘n tweede agtereenvolgende keer verby die 50-punt kerf te dryf, hierdie slag teen Heatherdale. Verlede naweek het hulle ook vir Bloemfontein-Suid met 53-0 kafgedraf.
St. Andrew’s is oënskynlik in nét so ‘n verwoestende bui, met Hloni Mkhwane se driekuns wat ‘n wegholsege van 52-7 oor Grey-kollege se agstespan beklink het. Saints het ook verlede week vir Heatherdale met 52 punte afgeslag.
Puntemakers
Bloemfontein Hoërskool 34 – Drieë: Brandan Erasmus (2), Ora Maleme (2), Hlalele Motaki, Wessel van der Merwe. Doelskoppe: Kenslin Collins, Jano Jackson. Sand du Plessis 0.
Hendrik Potgieter 54 – Drieë: Tumi Pholoane (3), Unathi Ngeyakhe (2), JW Mortlock, Boitshepo Nthipe, Janco Roberts. Doelskoppe: Ethan van Wyk (3), Boitshepo Nthipe (3), Stirling Batties. Heatherdale 0.
St Andrew’s School 52 – Drieë: Hloni Mkhwhane (3), Olin Hirwa, Naude Botha, Jiovano Alexander, Kaelo Monyaki. Doelskoppe: Botha (5). Grey VIII 7.
