SuperSport Schools Plus

Beeldtrofee, Grey vs. Paul Roos deur SA Skole kragmetings geraak

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-07-11

Twee van die belangrikste skolerugby-wedstryde van vanjaar sal waarskynlik deur die Suid-Afrikaanse Skole-span se bepalings ontwrig word.

Die kragmeting tussen Grey-kollege en Paul Roos Gimna­sium wat waarskynlik sal bepaal wie 2014 as die voorste rugbyspan in die land sal afsluit, sowel as die Beeldtrofee se eindstryde word op 23 Augustus beslis wanneer die SA Skole-span Engeland pak.

Die moontlikheid bestaan dat heelwat spelers wat in dié wedstryde moet speel vir die nasionale skolespan sal uitdraf. Die SA Skole-proewe wat vanjaar op 26 Julie in Kempton Park gehou word, het reeds teweeggebring dat die Leeus nie vanjaar ’n Makro-skole eindstryd sal hê nie. Die twee spanne wat mekaar in die eindstryd sou pak, Hoërskool Monument en Florida, het besluit dat die proefwedstryde heel moontlik ’n te groot invloed in die beplande eindstryd sou hê.

Daar sal vanjaar soos in 2012 nie ’n SA Skole-span ná die Cravenweek aangekondig word nie.

Die 51ste Cravenweek vir hoërskole begin Maandag op HTS Middelburg in Mpumalanga se hoofveld. Daar sal net ’n groep bekend gemaak word, wat aan die proewe in Kempton Park sal deelneem.

Verlede jaar was daar vier spelers, Pieter Jansen (EG Jansen), Marco Janse van Vuuren (Transvalia), Brandon Thomson (Ermelo) en Jinxi Molapo (Ben Vorster) in die Beeldtrofee se onderskeie eindstryde in aksie, wat ook al die nasionale skolespan verteenwoordig het.

Molapo het in 2012 die span gehaal, terwyl die ander drie almal lede van verlede jaar se span was.

Grey en Paul Roos se wedstryd is al voorheen deur die nasionale skolespan se kragmetings omver gegooi. Grey het in 2009 met 9-3 teen die span van Stellenbosch verloor, nadat ses van sy spelers weens verpligtinge by die nasionale skolespan die kragmeting misgeloop het.

As heelwat van die twee spanne se spelers soos verwag die SA Skole-span haal, sal vanjaar se wedstryd se uitslag weer ’n groot besprekingspunt wees – veral omdat dié wedstryd sal bepaal wie Suid-Afrika se voorste rugbyskool is.

Dit is egter nie al kragmetings wat ontwrig sal word nie. Die SA Skole-span speel ook teen Frankryk (15 Augustus) en Wallis (19 Augustus).

Die nasionale skolespan het in 2009 laas verloor toe Engeland hom met 45-13 op GWK-park in Kimberley geklop het.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.