Beeld Noordvaal Trofee vir mediumskole gaan na Limpopo
Die Beeld Noordvaal Trofee vir Mediumskole sal vanjaar staanplek in Limpopo kry. Ben Viljoen van Groblersdal sal die gasheer vir Piet Potgieter van Mokopane (voorheen Potgietersrus) in die eindstryd wees.
Potties het die verdedigende kampioen, die Hoërskool Vryburg, in ’n spannende halfeindstryd met 35-33 uitgeskakel.
Die besoekers van Vryburg het met nog vyf minute oor ’n voorsprong van 11 punte gehad.
Dié span se strawwe reis-verpligtinge die afgelope drie weke het gewis ’n invloed gehad. Vryburg het amper 3 000 km die afgelope drie weke vir sy verpligtinge in dié reeks afgelê.
Eers het Piet Potgieter se skrumskakel, Bennet Riekert, in die hoek oorgeglip om aan sy span hoop te gee. Daarna het die senter Driekuns Kleynhans die wendrie in die doodsnikke gaan druk ná Potties besit in ’n lynstaan by Vryburg afgeneem het met ongeveer twee minute se spel oor.
Die wenpunte is deur die heelagter, Marnus Uys, met die doelskop aangeteken. As die doelskop mis was, sou die telling 33-elk gewees het, met Vryburg wat tot die eindstryd sou deurdring omdat hy die eerste drie gedruk het.
Vryburg se heelagter, Francois Pelser, het weer gewys dat hy een van die opwindendste spelers op die aanval vanjaar in Suid-Afrika is. Hy het ’n driekuns aan drieë behaal.
Vryburg het verlede week in die kwarteindronde in Brakpan met 10-elk gelykop teen Stoffberg gespeel. Hy het toe deurgedring omdat hy die eerste drie gedruk het.
Ben Viljoen het Midstream College op sy agterplaas in Pretoria met 29-23 die loef afgesteek. Die besoekers van Groblersdal se flank Nimrod Lategan en losskakel, Ruan Breed, het elk dubbele driedruk-plesier ervaar.
Ben Viljoen se agttal het die oorhand voorlangs gehad, terwyl Midstream se agterlyn bobaas in die stryd van die agterhoedes was.
Die sterk wind het ook ’n beduidende rol in die kragmeting gespeel. Midstream het eerste teen die wind gespeel en die besoekers het ’n voorsprong van 17-8 opgebou.
Puntemakers:
Piet Potgieter 35 – Drieë: Driekus Kleinhans, Waldo Kruger, Bennet Riekert, Luandro Canqueiro. Doelskoppe: Marnus Uys (3). Strafdoele: Marnus Uys (3). Vryburg 32 – Drieë: Francois Pelser (3), André Kock, Rico Markram. Doelskoppe: Kock (2). Strafdoel: Kock.
Ben Viljoen 29 (17) – Drieë: Nimrod Lategan (2), Ruan Breed (2), Johan Moolman. Doelskoppe: Ruann Human, Breed. Midstream College 23 (8) – Drieë: Sybrand de Villiers, Heinro Kritzinger, Heinrich Bisschoff. Doelskop: Jason Bayford. Strafdoele: Bayford (2).
Ander spanne:
o.16: Vryburg 32, Ellisras 13; Hans Strijdom 19, Midstream College 16.
o.15: Piet Potgieter 8, Brandwag (Benoni) 0; Ellisras 34, Erasmus (Bronkhorstspruit) 18.
o.14: Overvaal 33, Nylstroom 19; Midstream College 19, Piet Potgieter 0.




