SuperSport Schools Plus

Baie op spel vir VS se Delicado teen Perses

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-06-08

Die Vrystaatse o.18-losskakel, Julian Delicado, kan gerus by sy voorganger, Pieter Jordaan, aanklop vir raad voor vandag se vriendskaplike rugbykragmeting met die Griffons in die Noordwes-stadion in Welkom.

Delicado sal met ’n kragtige vertoning vorendag wil kom, soortgelyk aan die een wat Jordaan twee jaar gelede in die ooreenstemmende kragmeting gelewer het.
Jordaan is destyds ná ’n kniebesering in die wedstryd teen die Perses in 2011 ’n laaste kans gegee om te bewys dat hy voldoende herstel het om in die Cravenweek-toernooi in Kimberley uit te draf.

Hy het ’n driekuns aan drieë in Welkom gedruk om te bewys dat hy op die bus na die Diamantstad moet wees.

Hoewel Delicado in die binnebaan vir die nr. 10-trui van die Vrystaatse Cravenweek-span is, sal hy vandag enige twyfel uit die weg wil ruim.

Sy aanvallende spel het vroeër die week duidelik meer byt aan sy proefspan gegee.

Hy sal teen die Griffons sy gevaarlike snellers EW Viljoen (heelagter) en senter Ali Magijima moet wegstuur.

Die taktiese stryd tussen die spanne se heelagters, Viljoen en Sechaba Matsoele, behoort iets vir die fynproewer te wees.

Viljoen is reeds deur die Westelike Provinsie vir volgende jaar gekontrakteer, terwyl Matsoele ook reeds deur die Vrystaat vir 2014 opgeraap is.

Die Griffons het Shaun Reynolds in hul geledere, wat die gevaarlike Wian van der Watt, Wessel Hefer en Jonathan April op die voorvoet moet plaas.

Die hoofwedstryd op die B-veld is tussen Oos-Vrystaat en die Vrystaatse Kiewiete.

Die span van die Riemland is vanjaar een van die gunstelinge om as kampioen van die VKB Reitz-week gekroon te word, terwyl die Kiewiete ongetwyfeld die span is wat die laaste paar jaar met die beste rekord op dié week spog.

Albei unies sal hul onderskeie verteenwoordigende spanne na dié dag se spel finaliseer.

* Die wedstryde vir vandag in die Noordwes-stadion is:

A-veld: 09:00: Griffons LSOB t. Vrystaat LSOB; 09:50: Griffons-Platteland se Akademiespan t. Vrystaat-Akademie B; 11:10: Griffons o.19 t. Vrystaat-Arende; 12:30: Griffons-Akademie t. Vrystaat-Akademie; 13:50: Griffons o.16 t. Vrystaat o.16; 15:00: Griffons o.18 t. Vrystaat o.18. B-veld: 09:00: Sandveld o.16 t. Suid-Vrystaat o.16; 10:10: Oos-Vrystaat o.16 t. Vrystaat Kiewiete o.16; 11:20: Flaminke t. Vrystaat o.16 B; 12:30: Sandveld o.19 t. Suid-Vrystaat o.19; 13:45: Oos-Vrystaat o.19 t. Vrystaatse Kiewiete o.19.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.