SuperSport Schools Plus

André Vorster le tuig neer

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-11-16 Tags: ,

Die Griffons se hoërskole-rugbyvereniging (GHRV) se voorsitter, André Vorster van Hentie Cilliers op Virginia het vanjaar die tuig na 12 jaar in dié pos neergelê. Vorster was ook vir drie jaar die sekretaris van die vereniging.

Die skoolhoof van Hentie Cilliers het op ‘n hoë noot sy dienste afgesluit. Die Griffons se Cravenweek-span was vanjaar onoorwonne op die 50ste weergawe van die toernooi in Polokwane. Die Perses was oor die afgelope drie jaar die voorste span op die Cravenweek, met slegs een nederlaag in sy nege wedstryde.

Vorster word opgevolg deur Vic Campher van die Hoërskool Kroonstad. Campher het al die Perses se Cravenweek-span gebrei en was ook die afrigter van Blouskool toe hulle in 1999 en 2000 teen Grey-kollege in die Vrystaatse Administrateursbeker se eindstryd hulle man gestaan het.

Vorster het die afgelope vier jaar ook as Suid-Afrikaanse Skole-keurder diens gedoen. Die nasionale skolespan is in die tydperk glad nie geklop nie. Hy was nege jaar lank as afrigter by die Perses se Cravenweek-span betrokke, terwyl hy ook voorsitter van die reëlingskomitee vir die Cravenweek van 2010 in Welkom was. Dié toernooi word steeds as een van die bes georganiseerde in die roemryke geskiedenis van die Cravenweek beskou.

Vorster was ook Henties se breier toe hulle in 1996 as kampioen van die Administrateursbeker gekroon is. Die span van Virginia het Sentraal op sy tuisveld daardie jaar 16-10 in die eindstryd getroef.

Die Griffons se bestuur vir 2014 is:

Voorsitter – Victor Campher (Hoërskool Kroonstad); Onder-voorsitters – Paul Sauer (Goudveld-Hoërskool), Wynand Els (Vrede), Gerrie van Zyl (LSOB), TP Lekoata (Ontwikkeling); Sekretaris en Tesourier – Kassie Kasselman (Wessel Maree); Addisionele lede – Roean Bezuidenhout (Welkom Gimnasium), Christo Swarts (AHS Kroonstad), Marius Els (Theunissen) en Kalla Kalsbeek (Hoërskool Sandveld), Dawie Matthee (Voortrekker), Francois Crauwcamp (HTS Welkom – skeidsregters); o.18-keurders – Francois Crauwcamp, Tjaart du Plessis (Hoërskool Kroonstad); Jerry Erasmus (AHS Kroonstad), Roean Bezuidenhout, Kassie Kasselman, Johan Malan (Vrede); o.16-keurders – Andries Kruger (Hentie Cilliers), Christo Swarts, JD van den Berg, Hennie Pelster (Voortrekker), Frans Crous (Wilgerivier), Nico Pretorius (Hennenman).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.