SuperSport Schools Plus

Amper al die rolspelers vir vanjaar se Vrystaatbeker bekend

By Charne van der Merwe , in Netball | News , at 2023-06-02 Tags: , , , , , ,

Amper al die rolspelers van vir vanjaar se Vrystaatbeker is bekend.

Die Hoër Meisieskool van Oranje is die vroeë gunsteling om die kroon te dra, maar sal eers op 16 en 17 Junie in Odendaalsrus ‘n hele paar aanslae van die ander voorste netbalskole in die provinsie moet afweer. Oranje is boonop ook die verdedigende kampioen en het ook vanjaar die kroon as kampioen van die Motheo-liga gedra.

Oranje is egter as kampioen gekroon na die Hoërskool Sentraal se eerstespan weens siekte nie sy plek in die Motheo-liga se eindstryd kon inneem nie. Die Tralies is sedert die onstaan van die Vrystaatbeker in 1984 die mees suksesvolste span in die kompetisie. Oranje was in sy laaste vier kragmetings teen die Tralies aan die wenkant.

Die verdedigende kampioen het vroeër vanjaar vir Sentraal in hul Motheo-ligawedstryd met 40-29 geklop. Eunice se eerstespan sal ook vanjaar in die Vrystaatbeker in aksie as Motheo se derde kwalifiseerder wees.

In die Fezile Dabi-streek het Wilgerivier van Frankfort en die Hoërskool Sasolburg tot die Vrystaatbeker deurgedring. Die Wilgies het vanjaar in die Fezile Dabi vir die Hoërskool Trio (48-17) en Hoërskool Sasolburg (38-30) verslaan.

Die uitspele vir die Lejweleputswa-streek vind op 9 en 10 Junie plaas. Hier is Goudveld-Hoërskool, Welkom Gimnasium en Teto High in ‘n stryd gewikkel vir die twee plekke vir die Vrystaatbeker-uitspele. Gouties het vroeër vanjaar tydens hul jaarlikse interskole teen Welkom Gimnasium met 50-22 as oorwinnaars uit die stryd getree.

Uit die Dihlabeng-streek sal die twee kragte van Bethlehem – Voortrekker en Witteberg hul staal tydens die Vrystaatbeker toon.

Xhariep se verteenwoordiger op die Vrystaatbeker sal waarskynlik Landboudal van Jacobsdal wees.

Die voorste twee spanne per ouderdomsgroep tydens die Vrystaatbeker dring deur tot die SA Topskole-kampioenskap.

 

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.