SuperSport Schools Plus

‘Agterstand kelder swart rugbyspelers’

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-09-09

Etniese swart rugbyspelers in Suid-Afrika het ’n sosio-ekonomiese agterstand wat ook bydrae tot die feit dat die spelers ’n reuse agterstand in hulle voeding het.

Dit het al tien skolerugby-afrigters van regoor Suid-Afrika wat Beeld eens oor dit wat hulle dink die vernaamste oorsake is, dat so baie etniese swart spelers na skool verlore raak. As jy dink aan ’n swart speler wat vir homself naam in Suid-Afrikaanse rugby gemaak het, het een van die afrigters hom waarskynlik op skoolvlak onder hande gehad.

“Ons het ’n besigheidsplan in werking gestel om dié spelers se voeding reg te stel. Ons het die grootbaas van Supplements SA, Ewan Kromhout, ingekry. Hy het bevind dat dié spelers reeds vanaf 12 jarige ouderdom nie die regte voedingswaarde inkry nie. Dit veroorsaak dat hulle nie so groot soos die wit spelers is wanneer hulle op o.19-, o.21-vlak of daarna kom nie,” het Theo Pieterse, afrigter van Itembelihle, gesê.

Pieterse het spelers soos die Springbok, Solly Tyibilika en die Pumas se slot Giant Mtyanda op skool geslyp.

Buiten die voeding wat ’n probleem is, sê Pieterse dat sy skoolspan se veld eintlik ’n gemors is en dat hy vir die kinders ’n droë broodrol voor oefening gee om te eet. Itembelihle het wel van Saru ’n gimnasium ontvang om te help met die spelers se ontwikkeling.

Nog ’n afrigter wat baie vir swart spelers in Suid-Afrika doen is André Hay van Ben Vorster. Die Springbok-stut, Trevor Nyakane, is deur sy hande.

“Disipline is ’n faktor sowel as die struktuur waaraan die spelers op skool gebonde is. Na skool verval dié struktuur en dan skielik kry die spelers geld wat hulle nooit gehad het nie en daar is skielik kuierplekke en meisies wat oor die pad kom en dan verdwyn die spelers,” het Hay gesê.

Daar is volgens Hay oorgenoeg spelers met talent. “Hier is rondom ons seker 600 swart skole in ’n 30 km radius en die spelers moet geidentifiseer word en ’n ondersteuningsbasis,” het Hay gesê.

*Jacques Viljoen, wat lank ’n afrigter by ’n skool was wat heelwat swart spelers opgelewer het, voel dat enige speler ondanks sy kleur die regte toerusting, finansies, voeding en ondersteuning nodig het om dit as proffesionele speler te maak. “Ek het fenomenale spelers by dié skool afgerig. Ek kan nie onderskei tussen wit en swart spelers nie, vir my is almal rugbyspelers,” het Viljoen gesê.

Viljoen stel voor dat afrigters op provinsiale o.19- en o.21-vlak dalk nie op hulle wenpersentasie geevalueer word nie, maar dalk liewer ’n doel gestel word om byvoorbeeld vier swart spelers elke jaar deur te bring wat gereed is om senior provinsiaal te speel.

*Barend Potgieter was soos Viljoen ook by ’n tradisionele wit skool betrokke, wat besluit het om talentvolle swart spelers geleenthede te gee. “Dié spelers se agtergrond tel teen hulle. Hulle ontvang geen ondersteuning van die huis af nie en hulle ouers maak hulle nie in ’n rugbykultuur groot nie. Daar is ook nie ’n sisteem in plek vir die seuns wat nie kan gaan swot en nie skool kan klaarmaak nie, wat die geval by baie van die talentvolle swart spelers is,” het Potgieter gesê.

* Viljoen en Potgieter is skuilname vir afrigters wat bang is hulle word weens die sensitiewe aard van dié saak benadeel.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.